Terwyl die Mafube-plaaslike munisipaliteit (Cornelia, Frankfort, Tweeling, Villiers) voete sleep om ʼn werkbare oplossing vir sy waterprobleme te vind, sit inwoners van Frankfort, Namahadi en Cornelia met droë krane.
Die gebrek aan water is te wyte aan moontlike opsetlike verwaarlosing en nalatigheid deur munisipale amptenare wat nie waterpompe reg bestuur het nie.
Dit volg nadat Mafube versuim het om vir ʼn geruime tyd salarisse aan amptenare te betaal.
Dit het intussen onder die VF Plus se aandag gekom dat die naburige Metsimaholo-plaaslike munisipaliteit al meer as ʼn week gelede aangebied het om die twee uitgebrande waterpompe te vervang.
Die waarnemende tegniese direkteur, Nokukhanya Radebe, sloer egter na bewering om die spesifikasies van die waterpompe wat vervang moet word aan Metsimaholo deur te gee.
Die VF Plus het in ʼn skrywe aan die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Teboho Mokoena, geëis dat dringende stappe geneem moet word om te verseker dat Mafube onmiddellik gebruik maak van Metsimaholo se hulp om die waterprobleme op te los.
Mafube self kan eenvoudig nie bekostig om die pompe te herstel of te vervang nie weens sy benarde geldsake.
Verder sal die VF Plus in die Mafube-raad aandring op ʼn ondersoek na die optrede van die amptenare. Indien gevind word dat hulle nie in die beste belang van die gemeenskap opgetree het nie, moet daar dissiplinêre stappe teen hulle geneem word.
Inwoners mag nie gyselaar gehou word deur munisipale werkers weens ʼn dispuut met die munisipaliteit nie.