Die onlangse sterftes en hospitalisering van ʼn groot aantal kinders wat vermoedelik giftige kos van spaza-winkels en straatverkopers geëet het, is aanduidend van die swak polisiëring en regulering van bestaande wette en verordeninge.
Die probleem is boonop vinnig besig om wyer as Gauteng te strek en 22 kinders moes onlangs gehospitaliseer word nadat hulle vermoedelik kos van straatsmouse geëet het. Gevalle is ook reeds in Limpopo en KwaZulu-Natal aangemeld.
Die antwoord is eenvoudig dat munisipale wetstoepassing met die hulp van die provinsiale- en nasionale regering versterk moet word en dat die polisiëring van hierdie informele kosafsetpunte dringend opgeknap moet word.
Plaaslike gesondheidsinspekteurs skitter in hul afwesigheid wanneer dit kom by die straatverkope van voedsel.
Dit terwyl restaurante, kettingwinkels en formele wegneemete-handelaars aan streng wetgewing en regulasies moet voldoen om ʼn lisensie te bekom en handel te dryf.
Die rede hiervoor is voor die hand liggend, naamlik juis om te verhinder dat skadelike kos aan die publiek verkoop word. Dit is daarom onverstaanbaar dat hierdie informele handelaars en smouse ʼn vrypas het om enige kos aan die publiek te verkoop.
Tot nou toe blyk dit dat veral kinders uiters kwesbaar is in hierdie gevaarlike situasie. Dit is hartseer en onverskoonbaar.
Die departement van gesondheid het op 20 Oktober bekend gemaak dat ʼn chemiese middel moontlik die gevalle van vergiftiging by skole in Gauteng veroorsaak het.
Die VF Plus verwelkom ook die toetrede van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), die ontplooiing van 80 gesondheidsinspekteurs en die nouer betrokkenheid van die polisie, landbou, die Suid-Afrikaanse Verbruikersraad en omgewingsinspekteurs.
Dit is wel kommerwekkend dat dit nou blyk dat gesondheidsinspekteurs grootliks eers opgelei moet word om hierdie taak te kan verrig. Dit wys dat daar tevore groot argeloosheid oor die gehalte van kitskos was.
Daar sal uiteraard vasgestel moet word waar die besmette kos vandaan kom en watter faktore ʼn rol speel, soos vervaldatums, verkoeling, higiëne en talle ander.
Die belangrikste is egter dat skadelike kos bloot nie aan die publiek verkoop moet word nie, en daarvoor is die staat en sy instellings verantwoordelik.
Kosverkope moet streng beheer, gereguleer en gepolisieer word. Opgeleide mense moet hiervoor aangestel word en daar moet weggebreek word van die ANC se werkwyse om eers te wag tot iets stukkend is of mense sterf voordat opgetree word.


