In ‘n munisipale raadsvergadering van die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapsehoop, Skukuza, Witrivier) het die raad die implementering van die nuwe boetestruktuur vir die diefstal van elektrisiteit en die peuter met munisipale infrastruktuur aanvaar.
Dit volg nadat die raad ook verlede jaar sy steun gegee het vir ʼn VF Plus-mosie dat kragdiewe wat met voorafbetaalde kragmeters peuter, strenger beboet moet word.
Luidens ʼn verslag wat voor die raad gedien het, ly die munisipaliteit enorme finansiële verliese weens inwoners wat voorafbetaalde meters oorbrug en meer elektrisiteit verbruik as wat hulle aankoop of gratis van Mbombela ontvang.
Die vorige verordening se boete was ʼn skrale R500.
Tans beloop elektrisiteitsverliese weens peuter en diefstal en verouderende infrastruktuur ʼn skokkende 25%. Die aanvaarbare verliese is 3,5% (soos aanbeveel deur Nersa).
Die implementering van die boetestruktuur is nou as volg vir huishoudings:
• Eerste oortreding sonder skade aan installasie: R7 464 tot R8 583.
• Eerste oortreding met skade aan installasie: R9 571 – R11 000.
• Tweede oortreding op ‘n tariefoortreding: R10 888 – R12 522.
• Derde oortreding: regstappe en verwydering van meterinstallasie.
Vir sakeondermenings en ander groot kragverbruikers is die boetes as volg:
• Eerste oortreding: R18 440 tot R21 207.
• Tweede oortreding: regstappe en verwydering van meterinstallasie.
Die VF Plus sal daarop aandring dat amptenare dadelik begin om die skuldiges op te spoor en die nodige stappe te neem.
Die VF Plus is toegewyd om die munisipaliteit uit sy benarde finansiële posisie te help en daarom kan daar nie toegelaat word dat inwoners dienste ontvang waarvoor hulle nie betaal nie.