Die omvangryke regseise teen die departement van gesondheid oor die laaste jare is ʼn duidelike simptoom van die verval in openbare gesondheidsorg en die tyd het aangebreek dat koppe in die departement begin rol om aanspreeklikheid te verseker.
Die VF Plus het gister in ʼn gesamentlike sitting van die portefeuljekomitee vir gesondheid en die staande komitees vir openbare rekeninge en toedeling, dit duidelik gemaak dat die buitensporige regseise nie langer geduld kan word nie.
Die vergadering het plaasgevind nadat die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, onlangs bekend gemaak het dat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek gaan instel na valse, ongeldige en bedrieglike regseise wat deur regsfirmas teen die departement ingestel word.
Die VF Plus steun so ʼn ondersoek, maar besef ook deeglik dat daar twee kante van die saak is. Daar vind wel ongerymdhede plaas, maar nie alle eise is vals, ongeldig of bedrieglik nie.
ʼn Groot aantal van die eise van miljarde rande teen die staat se gesondheidsinstellings is omdat daar nie voldoende sorg aan pasiënte gelewer word nie. In 2022 was daar 15 000 eise teen die departement ter waarde van R125 miljard. R855 miljoen hiervan is betaal.
Die VF Plus het reeds in 2022 ná ʼn eie, omvattende ondersoek oor die haglike toestand van openbare gesondheidsorg in die land, daarop aangedring dat president Cyril Ramaphosa ʼn kommissie van ondersoek aanstel om ondersoek te doen na die toestand in staatshospitale.
Die party het in November 2023 ʼn skokkende verslag uitgereik oor menseregteskendings in staats- en provinsiale hospitale en het ook ʼn klag ingedien by die menseregtekommissie (MRK) wat tans nog ondersoek word.
Die verslag toon aan dat pasiënte erg ly weens die uiters swak toestande en behandeling in hierdie instellings. Hierdie kant van die saak moet ook belig en ondersoek word.
Die South African Medical Malpractice Lawyers Association moet in hierdie opsig die geleentheid gegun word om sy insette te lewer en het reeds te kenne gegee dat hy bereid is om dit te doen.
Die VF Plus dring ook daarop aan dat ʼn volledige verslag oor mediese regseise aan die portefeuljekomitee vir gesondheid oorhandig word. Die komitee het só ʼn verslag al in 2022 aangevra, maar het dit steeds nie ontvang nie.
Was dit boonop nie vir die ouditeur-generaal (OG) wat in 2022 die enorme eise onder die komitee se aandag gebring het nie, sou geen haan waarskynlik nog daaroor gekraai het nie.
Die tyd het aangebreek dat daar vinnig en ferm opgetree word en koppe sal moet rol in die proses.