fbpx
Vryheidsfront Plus

Kersfeesboodskap – 2017

Vir baie mense voel dit asof 2017 net te vinnig gevorder het en amper nie kan glo dit is byna weer Kersfees nie. Elkeen het sekerlik persoonlike uitdagings in die jaar gehad waarvan sommiges suksesvol en ander teleurstellend oorwin en verloor is. Vir sommiges was dit ‘n jaar vol vreugde en vir ander ‘n jaar ook met verdriet. Dit is tyd vir bestekopname.

Die wonderlike is dat aan die vooraand van die einde van die jaar is daar Kersfees. Die kersboodskap van God wat ons so lief het dat Hy Sy enigste Seun vir ons gestuur het, is om ons moed te gee en te laat weet by Hom is daar altyd hoop.

Daarom moet ons met nederigheid ons suksesse met dankbaarheid op ons knieë voor ons Hemelse Vader lê. Met dankbaarheid weet ons ook dat ons verdriet en teleurstellings nie oorwin sou kon word sonder Sy Genade nie.

In die Suid-Afrikaanse politieke landskap, en ook in die wêreld, is daar baie onsekerhede wat twyfel in die gemoedere van mense skep. Die toenemende vraag is wat is ons toekoms, hoe veilig is ons, sal ons ekonomies oorleef, sal ek nog ‘n werk hê. Sommiges is reeds werkloos en wonder of hulle ‘n werk gaan kry om vir die gesin te kan sorg.

Baie mense dink hulle kan hierdie uitdagings en twyfel in eie krag oorwin, maar dit is nie waar nie, maar die ware boodskap van Kersfees gee ons die moed en krag.

Het ons nie aan die einde van die jaar juis die boodskap van Kersfees nodig nie? Dat Hy sy Seun gestuur het om vir al ons sondes te sterf. Genoeg dankbaarheid daarvoor kan ons nie bewys nie.

Dit gaan goed met die mens wat sy hoop op die Here vestig, sê die Bybel. Dit is ook die Vryheidsfront Plus se uitgangspunt.

Mag u en u gesin en geliefdes die ware boodskap van Kersfees ervaar en geniet en mag die uitdagings van die nuwe jaar met nuwe moed aangepak word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.