Die VF Plus in die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) kon gister nie ‘n spesiale raadsvergadering bywoon nie weens inwoners van Kokosi en Deelkraal wat ‘n raadsvergadering ontwrig het.
Die spesiale raadsvergadering was vir die goedkeuring van die aansuiweringsbegroting.
Inwoners wou met die burgemeester, me. Nozuko Best, praat oor die gebrek aan dienslewering en veral krag- en vullisverwyderingsprobleme. Daar is sekere woonbuurte wat dae of ‘n week al sonder krag is.
Selfs ouetehuise word nie ontsien nie. Die Senatus-ouetehuis is al 32 ure sonder water.
Voor die aanvang van die vergadering het inwoners die galery vol gesit en ook die raadslede se area beset.
Inwoners het oproerig geraak nadat die burgemeester hulle nie wou toespreek nie. ‘n Sekuriteitsbeampte is tydens die oproer aangerand en beseer.
Die speaker, Elvis Mphithikezi, moes die vergadering verdaag. ‘n Spesiale raadsvergadering is toe gistermiddag virtueel gehou.
Die VF Plus het juis teen die aansuiweringsbegroting gestem omdat dit nie noodsaaklike diensleweringsprojekte behandel nie en dienslewering net verder gaan versleg.
Die VF Plus verstaan die gemeenskap van Merafong se frustrasies oor die munisipaliteit se gebrekkige dienslewering, maar geweld is nie die oplossing nie.
Die ANC-beheerde Merafong se gebrekkige dienslewering gaan ongelukkig aanleiding gee tot meer sulke voorvalle.
Die enigste oplossing is om van die ANC ontslae te raak. Merafong verdien beter as die ANC.


