fbpx
Vryheidsfront Plus

Gebrekkige aansuiweringsbegroting van JB Marks uitgestel ná druk van die VF Plus

Die gebrekkige aansuiweringsbegroting van die JB Marks-plaaslike munisipaliteit, wat Potchefstroom en Ventersdorp bedien, is weens verskeie gebreke uitgestel ná druk van VF Plus.

Die VF Plus het verskeie wesenlike besware geopper teen die aansuiweringsbegroting wat gister (28 Februarie 2023) ter tafel gelê is. Die kruks van die besware was dat gebrekkige en onvolledige inligting verskaf is en dat die begroting daarom nie voldoen aan die vereistes van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFBW) nie.

Die raad is gewys op artikel 28(5) sowel as regulasies 21 en 25(1) van die wet wat onder meer bepaal dat die aansuiweringsbegroting sekere materiële inligting moet bevat.

Dit sluit in die motivering vir sekere materiële wysigings tot die begroting en ondersteunende inligting wat benodig word. Die regulasies bepaal ook dat die munisipale raad al die gevolge van die aansuiweringsbegroting en ondersteunende inligting moet oorweeg voordat dit goedgekeur mag word.

Die nodige ondersteunende inligting en dokumentasie het ontbreek en daar is gevolglik van die raad verwag om blindelings ‘n aansuiweringsbegroting goed te keur sonder om al die betrokke feite in ag te neem.

Alhoewel die ANC hard probeer het om die begroting deur te druk, moes die hoof finansiële beampte toegee dat die besware wat geopper is, geldig is.

Die VF Plus het ook wesenlike besware gehad oor die inkorting van die infrastruktuur-begroting, die onderbesteding op instandhouding en veral die feit dat die aansuiweringsbegroting die aanvanklike begroting vir die watersuiweringswerke met ‘n bykomende R6.4 miljoen wil sny.

Dit terwyl daar bykomend begroot word vir onnodige luukses soos administratiewe uitgawes, R1,05 miljoen vir die burgemeester se kantoor en onder meer ook die “algemene uitgawes” van die munisipale raad en die speaker se kantoor.

Dit is onaanvaarbaar dat die begroting vir instandhouding en dienslewering verminder word terwyl fondse op onnodige administratiewe luukshede verkwis word.

Die inwoners van JB Marks verdien ‘n munisipale raad wat veg vir dienslewering. Die VF Plus sal voortgaan om hom daarvoor te beywer.

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Mark Surgeon

Tshwane-metro minag Strukturewet

Die Tshwane-metroraad het gister tydens ʼn raadsvergadering die Munisipale Strukturewet geminag deur ʼn verslag wat handel oor ʼn ANC-raadslid wat ses agtereenvolgende raadsvergaderings nie bygewoon

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.