Voortdurende druk van die VF Plus in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit op Gautrans het daartoe gelei dat die brug oor die Rietspruit eindelik herbou is.
Die Rietspruitbrug is Maandag (22 Julie) weer amptelik in gebruik geneem.
Die Rietspruitbrug tussen Vanderbijlpark en Potchefstroom is op 18 Februarie 2023 ernstig beskadig ná swaar reën.
Motoriste moes van ʼn alternatiewe roete gebruik maak om hul bestemmings te bereik.
Die plaaslike gemeenskap het kort ná die voorval besluit om die aangrensende laagwaterbrug wat in 1929 gebou is, weer toeganklik te maak. Net ligte voertuie kon egter die brug gebruik.
Die VF Plus het voortdurend druk op Gautrans geplaas om die Rietspruitbrug te herstel.
Gautrans het in Maart vanjaar begin met die herbou van die brug en dit is tot groot verligting van die gemeenskap Maandag heropen.
Hierdie is weereens ʼn bewys dat die VF Plus alles in sy vermoë sal doen om owerhede te dwing om beskadigde infrastruktuur te herstel tot voordeel van die gemeenskap.