Die Gautengse regering het ná druk van die VF Plus ingegryp by die vernietigende kragkrisis waaronder Fochville al vir jare gebuk gaan.
Fochville vorm deel van die Merafong-plaaslike munisipaliteit.
Die kragkrisis in Fochville heers al vir jare weens Merafong se onvermoë om die kwessie op te los.
Talle ondernemings is ernstig benadeel en dit het gelei tot groot frustrasie onder inwoners.
Die kernoorsaak van die kragprobleme lê by die gebrekkige onderhoud van die kragstelsel en die hoë uitstaande skuld wat die munisipaliteit aan Eskom verskuldig is.
Ná talle pleidooie van ondernemings en inwoners het die VF Plus ʼn dringende afspraak gereël met mnr. Jacob Mamobolo, Gautengse LUR vir samewerkende regering (Cogta).
Die VF Plus-raadslid in Merafong, Ben van der Berg, het tydens die vergadering die afgelope week die hele kragkrisis op die tafel geplaas.
Mamobolo het voorgestel dat die provinsie vir City Power kontrakteer om ʼn oudit te doen van die Fochville-kragstelsel ten einde die toestand te peil vir moontlike opgradering en onderhoud.
Die VF Plus het die voorstel gesteun aangesien die provinsiale regering ook insae sal hê in die herstel van die kragnetwerk.
Die LUR het ook aanbeveel dat ondersoek ingestel word of ondernemings in Fochville teen ʼn koste ʼn eksklusiewe kraglyn sou verkies wat nie geraak sal word deur Merafong se Eskom-skuld nie.
Die VF Plus het onderneem om met die ondernemings in dié verband te skakel.
Sodra City Power se oudit afgehandel is, sal die VF Plus weer met Mamobolo vergader om te besluit oor die volgende stappe om die kragnetwerk weer op standaard te bring.
Danksy die VF Plus se inisiatief is daar vir die eerste keer in ʼn lang tyd weer lig aan die einde van Fochville se donker tonnel van kragprobleme.