Die agterstand van mediese prosedures in die Vrystaat het in die afgelope twee jaar bykans verdubbel tot 5 075.
Die Vrystaatse LUR vir gesondheid, mnr. Monyatso Mahlatsi, het in antwoord op ʼn vraag van die VF Plus aangedui dat die Universitas-hospitaal ʼn agterstand van 2 962 en die Pelonomi-hospitaal ʼn agterstand van 596 het wat betref mediese prosedures.
Die Dihlabeng-hospitaal in Bethlehem het ʼn agterstand van 629, die Bongani-hospitaal in Welkom 523 en die Boitumelo-hospitaal in kroonstad 340.
In September 2022 het die vorige nasionale minister van gesondheid dr. Joe Phaahla aangedui dat die Vrystaat ʼn agterstand van 2 947 het.
In minder as twee jaar het hierdie agterstand bykans verdubbel.
Die VF Plus is veral bekommerd daaroor dat die LUR erken die wagtyd vir ortopediese prosedures kan tot vyf jaar duur. Pasiënte wat algemene operasies moet ondergaan, wag tot amper twee jaar.
Die LUR het verder erken dat ʼn tekort aan verpleegpersoneel en die gesondheidsdepartement se verkrygingsprosedures die ginekologiese dienste in die Vrystaat kniehalter.
Tans maak 66% Vrystaters gebruik van openbare gesondheidsdienste.
Die agterstand in mediese prosedures sal verder verhoog indien die nasionale gesondheidsversekering (NGV) in die Vrystaat in werking gestel word en almal van staatshospitale en -klinieke afhanklik is.
Die VF Plus sal in die wetgewer se portefeuljekomitee oor gesondheid daarop aandring dat die departement aandui hoe hy hierdie agterstande gaan uitwis.
Dit is onaanvaarbaar dat pasiënte se reg tot ordentlike mediese sorg en waardigheid geskend word deur onnodige lang wagtydperke.