fbpx
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni-stadsrede fokus op dienslewering en nie op opportunistiese beloftes soos in verlede

Die doelgerigte koalisieregering van die Ekurhuleni-metroraad het gister tydens die stadsrede gefokus op die lewering van dienste en nie op opportunistiese beloftes soos in die verlede nie.

Die Ekurhuleni-metro (Boksburg, Kemptonpark, Edenvale, Germiston, Brakpan, Springs, Nigel, Alberton en Midstream) se tema vir die komende jaar is gegrond op die terugkeer na basiese beginsels tot voordeel van elke inwoner.

Inwoners het vir jare gebuk gegaan onder gereelde kragonderbrekings, slaggate in paaie, straatligte wat buite werking is, waterlekkasie en gebrekkige infrastruktuur.

Die koalisieregering het sekere doelwitte en inisiatiewe bekend gestel wat realisties en haalbaar is en inwoners se lewe positief sal beïnvloed.

Dit is nie lugkastele soos die vorige ANC-regering se beloftes van ‘n Disneyland nie.

Die volgende doelwitte is bekend gestel:

• Om seker te maak elke gemeenskap het toegang tot skoon, lopende water;
• Die modernisering van waterbestuur en die opsporing en herstel van waterlekkasies;
• Voorkoming van rioolbesoedeling;
• Doeltreffende vullisverwydering;
• Opgradering van kraginfrastruktuur vir betroubare kragvoorsiening;
• Aansporing vir private kragopwekking;
• Terugneem van openbare ruimtes wat deur wetteloosheid, rommel en verwaarlosing oorgeneem is;
• Veilige en bekostigbare openbare vervoer;
• Opgradering en herstel van padinfrastruktuur;
• Instandhouding en beveiliging van kritieke infrastruktuur;
• Misdaadvoorkoming in vennootskap met private sekuriteitsmaatskappye;
• Die skep van beleggingsgeleenthede om volhoubare werksgeleenthede te skep vir ekonomiese vooruitgang;
• Volhoubare behuisingsprojekte.

Die volgende inisiatiewe is uiteengesit:

• ‘n Aansporing van 2% vir inwoners wat getrou hul munisipale rekeninge vereffen;
• Oprigting van nege bykomende watertorings/reservoirs;
• Bekamping van onwettige vullisstortings;
• Uitwissing van agterstand met titelaktes;
• Verskaffing van volhoubare behuising aan behoeftiges en bekamping van behuisingsmisbruik;
• Rehabilitasie van sinkgate;
• Hersiening van die Aerotropolis-ontwikkeling;
• Implementering van boetes vir onwettige grondgebruik.

Die VF Plus sal bo en behalwe hierdie doelwitte en inisiatiewe graag wil sien dat ‘n ernstige poging aangewend word om weer ‘n eie ambulansdiens vir Ekurhuleni te beding.

Die Gautengse regering het aan die einde van Junie 2020 Ekurhuleni se ambulansdienste oorgeneem tot groot frustrasie van inwoners.

Die VF Plus is verbind tot die grondslag van die veelparty-koalisieregering en sal hom deurentyd beywer vir aanspreeklikheid, deursigtigheid en goeie bestuur.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.