(VF Plus-reaksie op verklaring van minister oor noodbrandstof-ingrypings)
Brandstof in Suid-Afrika word swaar belas. Aangesien besighede en huishoudings nie juis daarsonder kan klaarkom nie, alternatiewe nie werklik bestaan nie en dit betreklik maklik is om die heffings te administreer, is brandstof 'n sagte belastingteiken.
Vandag het die minister van finansies egter verligting aangekondig, wat alle gebruikers daarvan waarskynlik sal verwelkom. Volgens die VF Plus moet hierdie buitengewone omstandighede gebruik word om 'n beter brandstofbedeling te vestig.
Hoewel dit maklik is om brandstof te belas, bly dit omstrede. Dit rus swaar op die armste lede van die samelewing, maar terselfdertyd verlaag dit die mededingendheid van Suid-Afrikaanse besighede. Almal in die land ly dus daaronder.
In die onlangse verlede het onder andere die VF Plus by die regering daarop aangedring om die prysformule vir vloeibare brandstof te hersien.
Tans word die prys bereken asof alle brandstof in voltooide vorm ingevoer word, wat natuurlik nie die geval is nie. Hierdie berekening verhoog die land se kwesbaarheid vir wisselings in die land se wisselkoers.
In hierdie verband is dit belangrik dat die belangrikste oorsaak vir die verhoging van brandstofpryse oor die afgelope twee dekades nie verhoogde oliepryse is nie, maar verlaging in die waarde van die rand.
Om die rand se waarde te verhoog, moet die ekonomie nie benader word as 'n brood wat verdeel moet word sodat almal ewe veel het nie, maar as iets wat moet groei sodat almal genoeg kan kry. As dit gebeur, sal minder rande nodig wees om 'n vat olie te koop.
Vandag is verligting vir twee maande aangekondig, wat gefinansier word deur 'n deel van die land se strategiese oliereserwe te verkoop.
Gedurende hierdie tyd word durende planne beraam, waarvan die VF Plus hoop dat dit inderdaad 'n verbetering sal wees. Daar moet byvoorbeeld gewaak word teen die versoeking om 'n nuwe heffing in te stel, vir die bou van nuwe raffinaderye om die land se verouderde vloot te vervang.
Internasionaal is vervoer tans in 'n oorgang van petrol en diesel, na elektrisiteit en waterstof. Daar is nog etlike jare se ontwikkeling nodig voor dit die alledaagse werklikheid is, maar dit beïnvloed wel in watter bates langtermynbeleggings gemaak moet word.
Om die strategiese oliereserwe te verkoop, is inderdaad riskant. Dis soos 'n dam water wat slegs tydens droogtes gebruik moet word, maar mens weet nooit hoe lank die droogte gaan wees voor dit verby is nie.
Mens kan byvoorbeeld verwag dat die oorlog in Oos-Europa nie 'n permanente uitwerking op die olieprys sal hê nie.
Die invloed van swak ekonomiese groei op die rand, sowel as die uitwerking van 'n nuwe, ontluikende vervoerbedeling, is meer durend van aard en moet bepaal waarin belê word.
Die uitdrukking lui dat geen goeie krisis vermors moet word nie. Dit lyk wel of die regering hierdie goeie raad in die huidige krisis volg.


