(Debat in parlement aangevra deur EFF-leier: Enklaves soos Orania en Kleinfontein in post-apartheid Suid-Afrika – ʼn bedreiging vir nasiebou, nie-rassigheid en sosiale samehorigheid)
Die EFF en sy leier Julius Malema is die grootste bedreiging vir die mense van Suid-Afrika.
Dit was die boodskap van dr. Corné Mulder, leier van die VF Plus, in die parlementsdebat vandag wat mnr. Malema aangevra het met die tema: “Enklaves soos Orania en Kleinfontein in post-apartheid Suid-Afrika is ‘n bedreiging vir nasiebou, nie-rassigheid en maatskaplike samehorigheid”.
Hier volg dr. Mulder se volledige toespraak (ook beskikbaar in Engels).
Die onderwerp vir vandag se debat is gekies deur die leier van die EFF, mnr. Malema, wat beweer dat gemeenskappe soos Orania en Kleinfontein ’n bedreiging inhou vir nasiebou, nie-rassigheid en maatskaplike samehorigheid.
Hierdie gemeenskappe het nie oornag ontstaan nie. Hulle is die resultaat van lang onderhandelinge tussen verantwoordelike leiers, wat gelei het tot die ondertekening van die Akkoord oor Afrikaner-selfbeskikking op 23 April 1994.
Daardie akkoord is vandag net so toepaslik. Ons het daarom nou artikel 31 in ons Grondwet, wat handel oor kulturele, godsdienstige en taalgemeenskappe. Lede van hierdie gemeenskappe mag nie die reg ontsê word om saam met eendersdenkendes hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te praat nie.
Artikel 235 van die Grondwet behandel selfbeskikking en erken duidelik die reg van enige gemeenskap met ’n gemeenskaplike kulturele en taalerfenis, binne ’n territoriale entiteit in die republiek of op enige ander wyse.
Dit is presies wat Orania en Kleinfontein doen: Hulle is selfonderhoudende, produktiewe, volhoubare gemeenskappe wat geen finansiële las op die staat plaas nie. Stel jou voor as dit in ander gemeenskappe ook gedoen kan word.
Wie is die werklike bedreiging vir nasiebou?
’n Politieke party wat verdeeldheid saai, mense intimideer, skeuring predik en smag na ’n revolusie in Suid-Afrika – die EFF is daardie bedreiging.
Wie is die werklike bedreiging vir nie-rassigheid?
’n Politieke party wat “die keel van witheid wil afsny”, eiendom van wit mense wil konfiskeer en sê dat hy hulle eendag dalk sal oproep tot die slagting van wit mense in Suid-Afrika, maar nog nie nou nie – weereens die EFF.
Wie is die werklike bedreiging vir maatskaplike samehorigheid?
’n Politieke party wie se leier sê: “Jy moet nooit bang wees om te moor nie. ’n Revolusie vereis dat daar gemoor word as ’n rewolusionêre daad.” En wat graag “Kill the Boer – Kill the Farmer” sing. Duidelik is die EFF ook hier die bedreiging vir maatskaplike samehorigheid.
Orania en Kleinfontein is geen bedreiging nie – ons weet almal wie die werklike bedreiging is.
Die inwoners van Orania en Kleinfontein is Afrikaners. Net soos die meer as twee en ‘n half miljoen ander Afrikaners wat elders in Suid-Afrika woon. Ons het ons onsself na ons kontinent Afrika vernoem. Afrikaners in Afrika.
Ons mooiste taal is Afrikaans – ook vernoem na ons kontinent Afrika. Dit is die taal wat ons met trots vir ons kinders leer.
Afrikaners is bouers. Nie brekers nie. Ons wil en gaan graag op ‘n positiewe en konstruktiewe wyse in vrede met alle mense in Suid-Afrika ‘n pad vorentoe loop.
Ons is verbind aan Afrika en gaan hier ‘n toekoms vir ons en ons kinders skep. Maar mnr. Malema en die EFF moet die volgende mooi hoor en weet; dit glo en onthou:
Orania en Kleinfontein en alle ander Afrikaners is in Suid-Afrika om te bly. Ons het nie niemand se toestemming nodig nie.