(Debat in parlement oor die noodsaaklikheid van maatreëls om te verseker dat die R500 miljoen vir spazawinkel-ondersteuning doeltreffend gebruik word en nie wanbestee word nie)
Gegewe die ANC se bewese geskiedenis van korrupsie en wanbestuur, is die VF Plus opreg bekommerd oor die moontlike stroping van die spaza-hulpfonds van R500 miljoen.
Die geld is bewillig deur die departemente van kleinsakeontwikkeling asook handel, nywerheid en mededinging om die spaza-bedryf by te staan om aan gesondheidsregulasies te voldoen.
‘n Meer onlangse voorbeeld van die stroping van staatsfondse is die Covid-19-pandemie in 2020 waar president Cyril Ramaphosa belowe het dat streng maatreëls ingestel sou word om korrupsie met die R500 miljard-noodhulpfonds te voorkom.
Tog het die spesiale ondersoekeenheid (SOE) later grootskaalse bedrog aan die lig gebring, insluitend R13,3 miljard se korrupsie met persoonlike beskermende toerusting en R2,5 miljard van die Ters-hulpskema.
Hierdie korrupsie het hoë regeringsamptenare en 51 maatskappye betrek. Dit het bloot opnuut beklemtoon dat nie eens die beloftes van die president ANC-kaders verhinder om openbare fondse te stroop nie.
Niemand kan die VF Plus daarom verkwalik as hy bloot nie die ANC se betrokkenheid by ‘n fonds soos hierdie vertrou nie.
Die fonds gaan ongetwyfeld geplunder word: Die vraag is net tot in watter mate belastingbetalers se geld in die sakke van ‘n paar korrupte amptenare of politici gaan beland eerder as om spaza-winkels of gemeenskappe te ondersteun.
Die R500 miljoen kan eerder aangewend word om munisipale wetstoepassing te versterk en uit te brei, veral wanneer dit kom by die polisiëring van hierdie informele kosafsetpunte.
Die geld kan ook eerder aangewend word om plaaslike regerings te help om meer gesondheidsinspekteurs vir hierdie sektor aan te stel en op te lei. ‘n Deel kan selfs aangewend word om meer medisyne in openbare gesondheidsgeriewe beskikbaar te stel.
Hierdie maatreëls sal die informele voedselsektor beter reguleer en algemene gesondheid bevorder.
Die VF Plus doen ‘n beroep op die regering om streng oor die fonds te waak. Alles moontlik moet gedoen word om te verhinder dat die inisiatief nóg ’n bewys word van die ANC se onvermoë om openbare fondse doeltreffend te bestuur.