(Parlementsdebat oor “wit heerskappy” internasionaal en in Suid-Afrika)
Die ANC, MK, EFF en DA begaan dieselfde denkfout – soos in vandag se parlementsdebat oor sogenaamde “wit heerskappy” – dat die waardering van die Westerse erfenis aan wit heerskappy gelyk gestel word. Dit is verkeerd.
Die neiging in Amerika en Europa om die grondslae van die Westerse beskawing te herontdek word dus as wit heerskappy gebrandmerk en nasionalisme as rassehaat en verdeeldheid.
Die VF Plus, daarenteen, het onlangse verkiesingsuitslae in Westerse lande as ‘n positiewe verwikkeling uitgelig wat byna noodwendig moes volg op die self-veragting waarin die Weste oor die afgelope dekades verval het.
Die kernvraag van die Suid-Afrikaanse politiek is hoe ‘n multinasionale staat, soos Suid-Afrika, sy kulturele verskeidenheid moet hanteer:
Vir die ANC, MK, EFF en die DA lê die antwoord in ‘n gemeenskaplike staatsidentiteit waaraan elke minderheid se eie kultuur ondergeskik moet wees.
Daarvolgens kan kulturele identiteit slegs in private ruimtes geduld word, want indien dit in die openbare lewe vastrapplek kry, lei dit tot nasionalisme, haat en verdeeldheid.
Die enigste verskil tussen hierdie partye is die wyse waarop die staat die identiteit van sy burgers moet bepaal.
In teenstelling hiermee beywer die VF Plus hom vir ‘n federale staat waarin kulturele identiteit aanvullend tot mekaar staan en nie teenoor mekaar nie en waarin almal die geleentheid kry om te floreer.
Erkenning is nie die probleem nie, maar die oplossing. Indien dit misken word, kan minderhede kies tussen geleidelike verdwyning of spanning met die staat. Sulke state raak toenemend onderdrukkend en spat uiteindelik na ‘n krisis uitmekaar.
Afrikaners wil oor niemand anders heers nie, maar self is ons nie vir onderhorigheid gebore nie.
Die staat se keuse is eenvoudig: Erken dit en ontlont die kragte wat spanning en onderdrukking skep, of gaan voort op die huidige pad en voel hoe dit aan die verkeerde kant van ‘n vryheidstryd voel.