(Debat in parlement oor die behoefte aan ʼn nuwe fokus en strategieë om geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord as nasionale krisis aan te pak)
Sonder die herstel van ons morele kompas, sal geslagsgegronde geweld (GBV) en vrouemoord ‘n nasionale krisis in Suid-Afrika bly.
Die gruwelike moord op die student Uyinene Mrwetyana in ‘n Kaapse poskantoor op 24 Augustus 2019, tussen ‘n polisiekantoor en ‘n hoërskool, het die “Am I Next”-beweging laat ontstaan en GBV is as ‘n krisis verklaar.
Hoewel ‘n nasionale strategiese plan van R1,6 miljard geloods is en planne oor strenger vonnisse en verbeterde seksuele oortredingshowe genoem is, bly die resultate ontoereikend. Miljoene vroue en kinders is steeds slagoffers en die geweld gaan onverpoos voort.
Die huidige strategieë faal weens swak implementering en sistemiese uitdagings. Agterstande in ondersoeke, DNS-toetsing en hofsake ondermyn geregtigheid, terwyl polisiekantore en howe ondoeltreffend bly.
‘n Holistiese benadering hieroor is nodig, wat alle regeringsdepartemente en -sfere insluit. Dit vereis nie net verbeterde polisiëring en vervolging nie, maar ook toegang tot gesondheidsorg vir slagoffers, bemagtigende onderwys vir vroue om uit die geweldsiklus te breek, en opleiding vir seuns en mans.
Ekonomiese groei en werkskepping is ook kritiek, aangesien werkloosheid sosiale euwels soos dwelmmisbruik en geweld aanwakker.
Dit is ook nie net mans wat hulself aan hierdie soort misdaad skuldig maak nie. Een voorbeeld is waar twee dogtertjies, Nada Jane Chillita en Krisley Dirker, na bewering aan die hand van vroue gesterf en Joshlin Smith deur haar ma vir eie gewin verkoop is.
Wat ‘n skreiende skande dat selfs vroue ʼn oorlog op vroue en kinders voer.
Waar is jou siel as jy ‘n twee of vierjarige só aanrand dat dit haar dood veroorsaak, jou eie kind verkoop, as jy ‘n agt dae oue baba verkrag en vermoor omdat haar gehuil jou gepla het of jy jouself op ‘n vrou afdwing, want jou drange is belangriker as ‘n ander persoon se wil en liggaamlike integriteit?
Dit onderstreep ‘n dieper morele krisis in ons samelewing – ‘n verlies aan waardes, naasteliefde en respek.
Suid-Afrika se vroue en kinders verdien ‘n samelewing waar hul veiligheid en waardigheid gewaarborg is – nie ‘n toekoms waar hulle vra, “Is ek volgende?”.