Die voorgestelde tariefverhogings in die Drakenstein Munisipaliteit (Gouda, Paarl, Saron, Wellington) se konsepbegroting vir die 2022/23- finansiële jaar is onredelik aangesien basiese dienslewering steeds tekort skiet.
Die VF Plus verwelkom wel die feit dat eiendomsbelasting nie in hierdie finansiële jaar verhoog word nie aangesien dit verlede jaar weens die 19%-waardasieverhogings met tussen 12% en 27% gestyg het.
In die lig hiervan is die VF Plus nie gelukkig met die aanduidings dat dit in die opeenvolgende jare weer met 4.5% sal verhoog nie.
Die voorgestelde tariefverhogings is soos volg:
• Water: 6.9%
• Riool: 6.9%
• Vullisverwydering: 7.5 %
• Elektrisiteit: voorlopig 7,71%, onderhewig aan finale goedkeuring van Nersa.
Al die bogenoemde tariefverhogings oorskry die 2021-inflasiekoers van 4,5% wat die Nasionale Tesourie as riglyn aan munisipaliteite aangedui het vir verhogings.
Dit oorskry ook die huidige inflasiekoes van 5,7%.
Munisipaliteite is veronderstel om slegs as agent op te tree vir Eskom en nie om munt te slaan uit kragverkope ten koste van die verbruiker nie.
Dit maak dit des te meer noodsaaklik om alternatiewe kragbronne, soos son- en windkrag, te ondersoek en te ontwikkel om die afhanklikheid aan Eskom te verminder.
Net soos met kragvoorsiening, moet daar ook innoverend gekyk word na watervoorsiening veral weens die groot instroming na die munisipaliteit.
Die VF Plus het reeds probeer om die Bergriver Development Corridor-konsep ter tafel te lê om konstante watervloei uit die Bergrivier teweeg te bring. Behalwe vir volhoubare waterverskaffing hou dit massiewe geleenthede in vir ekonomiese groei, werkskepping en toerisme.
Alhoewel die tarief vir vullisverwydering verhoog, hoop vullis op en verwydering is nie na wense nie weens swak beplanning en bestuur.
Die VF Plus is bekommerd oor die stygende salarisrekening van Drakenstein weens salarisverhogings vir amptenare wat Salga jaarliks op munisipaliteite afdwing.
Bo en behalwe die normale kerfverhoging van 2,4%, word daar begroot vir ‘n verhoging van 4,9%.
Die rojale aanstelling van konsultante en kontrakteurs teen groot bedrae, wanneer daar gekwalifiseerde amptenare is wat die werk kan doen, bly ook ‘n bron tot kommer.
Die VF Plus doen hiermee ‘n beroep op gemeenskappe en nie-regeringsorganisasies om deel te neem aan die openbare deelnameproses wat gevolg moet word voordat die finale begroting deur die raad goedgekeur kan word.
Dit is ‘n geleentheid om insette te lewer en besware te opper. Datums en sluitingsdatums vir hierdie proses sal per sosiale media gekommunikeer word.