Doen weg met skadelike beleid soos regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en omarm ʼn vrye markstelsel. Dan sal ekonomiese groei, vooruitgang en werkskepping volg tot voordeel van almal in die land.
Die huidige ANC-regeringsbeleid het bloot patronaatskap bevorder tot nadeel van die ekonomie en die groter bevolking wat toenemend in armoede gedompel is. Slegs ʼn werk met ʼn inkomste is ʼn teenvoeter vir stygende lewenskoste wat ʼn gegewe is.
Verlede maand het ʼn gesaghebbende meningspeiling oor bestedingsgewoontes aangedui hoe moeilik miljoene mense in die land dit vind om te oorleef met ʼn karige of geen inkomste.
Dit wys dat Suid-Afrikaners met ʼn maandelikse inkomste van sowat R2500 per maand gemiddeld R758 per maand aan kos bestee. Met ʼn inkomste van R60 000 per maand is die kosuitgawe gemiddeld R4600. Dit beteken dat daar oor alle inkomstegroepe gemiddeld 11% aan kos bestee word.
ʼn Ander peiling van ʼn finansiële instelling het getoon dat 55% van Suid-Afrikaners tans nie kan spaar nie en dat 31% geensins vir hul aftrede spaar nie. Altesame 11% van die bevolking bestee maandeliks meer as wat hulle verdien. Hulle oorleef van skuld.
Daarom is dit geen wonder nie dat derduisende mense wat wel ʼn pensioenfonds het, met die nuwe tweepotstelsel reeds aansoek gedoen het om van hul aftreefondse te onttrek nie. Die staatsdienspensioenfonds het in net een week 17 000 versoeke ontvang.
Dit wys onteenseglik dat Suid-Afrikaners swaar trek. Die regering van nasionale eenheid (RNE) bring hoop, maar daadwerklike optrede moet nou volg om werk te skep. Die land se volle werkloosheidskoers staan al oor 44%. Meer as 64% jeugdiges tussen 15 en 24 jaar is werkloos.
Elke geslag is inderdaad verantwoordelik vir sy eie era. Dit sluit almal in die land in, maar veral politieke besluitnemers. Die tyd het aangebreek om die verval te keer. Die keerpunt is bereik om uit die as op te staan en waarlik ʼn goeie verhaal vir hierdie era te skryf.