Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus verwelkom Valke-ondersoek na justisieminister: Geregtigheid moet geskied

Die VF Plus verwelkom die Valke se ondersoek na die VBS-korrupsiebewerings teen die minister van justisie, Thembi Simelani.

Suid-Afrika is vuisvoos van bewerings oor politici se betrokkenheid by misdaad sonder enige gevolge. Dit moet verander. Die minister moet opsystaan terwyl die aangeleentheid ondersoek word en daar finale uitsluitsel oor die bewerings is.

Al gee die minister die versekering dat sy nie met vervolgingsprosesse in verband met die gelikwideerde VBS-bank en dalk nou ook ‘n saak waar sy direk betrek word sal inmeng nie, sal daar altyd ‘n moontlikheid bestaan dat haar blote teenwoordigheid behoorlike ondersoek en vervolging sal kortwiek

Wat die ondersoek teen die minister aanbetref, is dit onvermydelik dat enigiemand wat handelinge met VBS gehad het, bevlek is deur assosiasie, ongeag die ontkennings en of sy of ander persone se optrede in die aangeleentheid bona fide was of nie.

Die bewerings teen Simelane spruit voort uit haar termyn as burgemeester van Polokwane. Sy het glo onregmatiglik R576 000 van die maatskappy Gundo Wealth Solutions ontvang om ʼn koffiewinkel in Sandton te koop.

Dit was nadat sy na bewering R394 miljoen van die munisipaliteit by VBS belê het in ʼn transaksie wat glo deur Gundo Wealth Solutions gefasiliteer is.

Die VF Plus was vandag teenwoordig in die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie wat die minister ondervra het. Die party verwelkom dié geleentheid, asook die polisie-ondersoek omdat daar eenvoudig net te veel toevallighede, onbeantwoorde vrae en ooreenkomste in die tydlyn van die beweerde oortreding en andersins is.

Enige persoon in Suid-Afrika is onskuldig totdat skuld bewys word deur ʼn deeglike polisieondersoek en ʼn hof. Indien die huidige ondersoek wel tot vervolging lei, sal die minister wel die geleentheid kry om haar onskuld te bewys indien sy onskuldig is.

Die grootskaalse korrupsie oor dekades in Suid-Afrika kan nie langer geduld of ongestraf gelaat word nie. Veral ʼn minister van justisie sit aan die spits van reg en geregtigheid in die land en moet bo verdenking wees.

Die VF Plus dien daarom ‘n beroep op die Valke en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) om sonder vrees vir vergelding hierdie aangeleentheid deeglik te ondersoek en die minister summier aan te kla indien bewyse gevind word wat daarop dui dat sy wel oortree het.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.