Die ontploffing by die Denel Rheinmettal-springstofaanleg by Macassar naby Kaapstad laat kommerwekkende vrae ontstaan oor die operasionele veiligheid by dié aanleg en Denel is dit aan die publiek en personeel verskuldig om oop kaarte te speel oor die voorval.
Tot in hierdie stadium is die inligting oor die ontploffing nog vaag en daar is nie eens klarigheid oor die aantal mense wat dood is nie.
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus en self ‘n kundige op die gebied van die vervaardiging en berging van springstof, sê waar met springstof gewerk word, is daar streng veiligheidsmaatreëls wat nagekom moet word ingevolge die Wet op Ontplofbare Stowwe.
"Indien daar nougeset by die voorskriftelike lisensies ingevolge die wet gehou is, soos oor die hoeveelheid plofstof by ‘n bepaalde punt, is die moontlikheid van ‘n ongeluk soos dié by Kaapstad, en die groot lewensverlies wat met die ontploffing gepaard gegaan het, uiters skraal.
"Daar kan om hierdie redes wel geldige vrae aan Denel gevra word oor die redes vir ontploffing. Die vrae sluit in die opleiding van personeel en of die voorskrifte vir die berging nagekom is.
"Die VF Plus wil ook sy medelye uitspreek met die naasbestaandes van mense wat in die voorval dood en beseer is," sê Groenewald.