‘n Arbeidsdispuut van vakbonde wat namens Sassa-amptenare optree, is besig om vertragings te veroorsaak met die prosessering van nuwe aansoeke om welsyntoelaes ná die omskakeling van Cash Paymaster Services (CPS) se stelsel na dié van Sassa en Sapo (SA Poskantoor).
In ‘n antwoord wat die minister van maatskaplike ontwikkeling, Susan Shabangu, verskaf het op geskrewe vrae van die VF Plus se parlementêre woordvoerder vir maatskaplike ontwikkeling en die party se hoofsweep, dr Corné Mulder, blyk dit dat daar “vertragings” is met die registrasie en prosessering van nuwe aansoeke, veral in Gauteng. (Vrae en antwoorde hierby aangeheg).
"Vakbonde staan totaal ongevoelig teenoor werkloses en die land se ekonomie"
Volgens Shabangu word die vertragings veroorsaak deur ‘n “arbeidsdispuut” wat in wese daarop neerkom dat Sassa-amptenare nie bereid is om as deel van hul werk vingerafdrukke van nuwe aansoekers te neem nie aangesien hulle aanvoer dit is nie deel van hul werk nie.
"Hierdie dispuut neem hoegenaamd nie in ag dat mense in nood waarskynlik sonder enige inkomste sal wees nie. Dit is tekenend van die arbeidsituasie in veral Suid-Afrika se openbare sektor waar vakbonde grootliks ‘n remskoen vir ekonomiese en maatskaplike vooruitgang is.
"In hierdie geval is dit betreurenswaardig dat dissipline en werksetiek só verval het dat bejaardes en hulpbehoewend daaronder moet ly.
"Ongeag die enorme omvang van werkloosheid in Suid-Afrika onderstreep hierdie situasie opnuut dat vakbonde totaal ongevoelig staan teenoor werkloses en die land se ekonomie. Die algemene houding van toe-eiening wat vakbonde op dié wyse by hul lede skep is onhoudbaar," sê Mulder.