fbpx
Vryheidsfront Plus

Resessie: ANC-regering se onvermoë om ekonomiese stabiliteit te bewerkstellig

Die resessie waarin Suid-Afrika verkeer met die inkrimping van die land se ekonomie in die tweede kwartaal van 2018, dui op die regering se onvermoë om ekonomiese stabiliteit te bewerkstellig.

"Met Suid-Afrika se hoë werkloosheidskoers en armoede, kan 'n resessie nie bekostig word nie," sê Wouter Wessels, VF Plus parlementêre woordvoerder vir finansies

Wessels sê die huidige resessie kan voor die deur van die ANC-regering se onbesonne beleidsrigtings, soos onteiening sonder vergoeding geplaas word. Die onsekerheid wat deur die voorgestelde grondwetwysiging veroorsaak word, strem beleggings en uitbreiding wat kan werk skep en tot ekonomiese groei kan lei.

Hy sê die regering se arbeidsbeperkende wetgewing en beleid is verantwoordelik daarvoor dat groot maatskappye eerder hul fabrieke en ondernemings na die buiteland skuif wat tot minder werksgeleenthede in Suid-Afrika lei.

"Van die kommerwekkende aanwysers rondom die resessie is ‘n Rand wat deur die R15 per dollar-grens gebreek het en in ‘n stadium vanoggend teen R15,13 per dollar verhandel het. Die landbousektor het met 29,2% ingekrimp en huishoudelike besteding het met 1,3% afgeneem terwyl staatsbesteding met 0,7% in die tweede kwartaal gestyg het.

"Die VF Plus is van mening dat beleid en onverantwoordelike populistiese uitsprake oor nasionalisering en grond dadelik stopgesit moet word.

"Die ANC verloën Suid-Afrika deur die land se ekonomie prys te gee ter wille van goedkoop politieke punte met die oog op die 2019-algemene verkiesing. Die regering se onbesonne uitsprake en ondeurdagte beleidsrigtings is besig om die land duur te staan te kom.

"Daar is 'n nuwe ekonomiese beleid en rigting vir die land nodig waar vryemark-beginsels geld asook 'n fiskale beleid wat die staat se finansiële posisie versterk, aanspreeklikheid verseker en 'n omgewing skep waar die privaatsektor kan groei.

"'n Land waarvan die staatskas bankrot is en waar goeie fiskale dissipline afwesig is, sal nie volhoubare ekonomiese groei geniet nie," sê Wessels.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.