Die Demokratiese Alliansie (DA) se voorgestelde mosie vir ‘n vroeë verkiesing is opportunisties, sal nie slaag nie en sal Zuma versterk. Die afgelope mosie van wantroue het getoon dat die ANC-LP’s bereid is om die party (ANC) te beskerm, ten spyte van ongelukkigheid oor Zuma en staatskaping, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald sê die DA moet daarteen waak dat sy optrede nie die Zuma-faksie binne die ANC bevoordeel en versterk nie.
“Elke keer as Zuma ‘n mosie oorleef versterk dit sy aanhangers binne die ANC, aangesien dit by hulle die indruk wek dat hy ‘n sterk leier en onaantasbaar is.
“Kiesers in die algemeen begin ook moedeloos raak indien daar nie aan die verwagting voldoen word om van Zuma ontslae te raak nie. Kiesers raak apolities en gaan dan nie stem nie wat tot nadeel sal wees vir opposisiepartye in 2019.
“Die anti-Zuma-faksie moet nou werk daarvan maak om in Desember van Zuma en sy meelopers ontslae te raak, aangesien dit net die ANC is wat werklik van Zuma ontslae kan raak, anders sit ons dalk tot in 2019 met Zuma as president”, sê dr. Groenewald.