Die VF Plus verwelkom die hooggeregshof in Pretoria se bevinding wat die grondwetlike mandaat van die Reserwebank bevestig asook die hof se tersydestelling van die Openbare Beskermer (OB) se kommentaar oor die Reserwebank se rol in haar verslag oor die ABSA/CIEX-ondersoek.
Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor finansies, sê die OB het haar magte oorskry om kommentaar te lewer oor die wysiging van die Grondwet wat sy veronderstel is om te beskerm en om die regte daarin vervat te bevorder.
“Dit is wel verblydend dat die OB dit wel uiteindelik besef het en nie die Reserwebank se aansoek tot die hooggeregshof om haar verslag tersyde te stel geopponeer het nie.
“Die OB het nou ‘n geleentheid om haar mandaat van meet af uit te voer sonder om politieke uitsprake self te maak, ongeag haar eie siening van sake. Haar plig is nou om haar grondwetlike mandaat uit te voer en al die sake met betrekking tot staatskaping sonder vooroordeel te ondersoek,” sê adv. Alberts.