fbpx
Vryheidsfront Plus

DA-burgemeester van Oudtshoorn het samewerking onmoontlik gemaak

Ontevredenheid oor die optrede van die vorige DA-burgemeester van Oudtshoorn, mnr. Chris Macpherson, is hierdie week op die spits gedryf toe die bestaande koalisie in dié munisipaliteit op die rotse beland het.

ʼn Nuwe regering van plaaslike eenheid (RPE) is daarna deur partye gevorm met Johan Allers van die VF Plus as burgemeester. Die VF Plus het van die begin af die DA genooi om hom by die RPE aan te sluit.

Die DA het die ander partye én die publiek se versoeke om Macpherson te vervang deurentyd van die hand gewys en het eindelik self uit die koalisie gestap.

Hier volg van die redes waarom Macpherson vandeesweek met ʼn mosie van wantroue uit sy pos verwyder is:

• Die direkteur van infrastruktuur op Oudtshoorn is in November 2023 afgedank sonder die vereiste dissiplinêre prosesse. Die burgemeester (Macpherson) ignoreer die mening en gesamentlike koukusbesluit waar drie van die vier koalisiepartye (VF Plus, Icosa en Saamstaan) teen die afdanking stem.

• Die rede vir die afdanking spruit uit die verskuiwing van ʼn rioolpyp by ʼn nuwe ontwikkeling en wie vir die koste van R3,1 miljoen verantwoordelik is. Die afgedankte direkteur het daarop aangedring dat die ontwikkelaar self betaal. Die burgemeester het gesê die munisipaliteit moet betaal. Dit het wye ongelukkigheid onder die publiek tot gevolg gehad.

• In Februarie vanjaar is die rioolpyp-aangeleentheid weer in die raad bespreek met die voorstel dat die munisipaliteit self die pyp moet skuif. Die koalisievennote (VF Plus, Icosa en Saamstaan) dring weer aan op ʼn regsmening. Die burgemeester gaan nogtans voort en gee die munisipale bestuurder opdrag dat die pyp geskuif word.

• Dieselfde scenario het afgespeel by ʼn ander perseel van dieselfde ontwikkelaar waar die burgemeester ook daarop aangedring het dat die munisipaliteit die elektriese aansluitingskoste moet dra. Die direkteur en die koalisievennote se mening was dat die ontwikkelaar self moet betaal.

• ʼn Munisipale begroting word opgestel sonder enige insette van die koalisievennote. Oor die koalisievennote se ontevredenheid hieroor was die burgemeester se antwoord dit is “my begroting” en dat die “klein partye” nie ʼn sê het nie.

• Die burgemeester steur hom in die raad nie aan vennote se besnoeiingsplanne vir buitensporige hoë eiendomsbelasting nie.

• Op 7 Junie 2024 woon die DA nie ʼn koukus by nie en weer besluit die drie koalisievennote om nie die begroting goed te keur nie. Die burgemeester onderhandel buite die koalisie met die ANC en die begroting word met steun van partye buite die koalisie aanvaar. Hierdeur het die DA effektiewelik reeds die koalisie-ooreenkoms beëindig.

• ʼn Gereelde klag is dat die burgemeester eensydig besluite van komitees omkeer en nie goed saamwerk met komiteevoorsitters nie.

• Die burgemeester perk die magte van die VF Plus-speaker op verskeie maniere in, soos dat hy nie op die komitee van die KKNK of die water- en sanitasie-werksgroep mag dien nie.

• Hy besluit ook dat ʼn VF Plus-raadslid nie meer op die behuisingswerksgroep mag dien nie. Hierdie opdragte is onwettig, aangesien die raad die aanstellings doen en nie die burgemeester nie.

• Die mediabeampte in die Burgemeester se kantoor word slegs vir die burgemeester gebruik en nie vir die koalisie of vir enige geen ander party nie.

• Die burgemeester het met die PA gekonkel om die VF Plus se plek in die koalisie in te neem, hy misbruik die PA om vals klagtes teen die VF Plus-speaker in te bring en ondermyn deurentyd die speaker.

Hierdie redes maak dit duidelik dat die burgemeester die koalisie-ooreenkoms en koalisievennote deurentyd geminag het. Hy het opgetree asof die DA alleen in beheer van Oudtshoorn is.

In gesprekke oor die aangeleentheid het die DA-leierskap prontuit gesê niemand sal aan hulle “voorskryf” wie hulle aanwys as burgemeester nie.

Die VF Plus se siening is dat niemand voorskriftelik wou optree nie, maar dat daar bloot ʼn opregte poging was om ʼn bevoegde persoon as burgemeester aan te stel in belang van die inwoners van Oudtshoorn.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.