Die Mogale City-plaaslike munisipaliteit moet onmiddellik die rioolpomp langs die Pinehaven-landgoed in Muldersdrift herstel om die rioollekkasie stop te sit.
Riool stroom die afgelope week in ʼn sementvoor wat afvloei na omliggende plaasdamme wat verder na riviere vloei en uiteindelik in die Hartbeespoortdam uitmond.
Die party het reeds herhaaldelik met die departement van water en sanitasie geskakel om die fout te herstel, maar die versoeke val op dowe ore.
Die VF Plus het in ʼn dringende skrywe aan Mogale City se munisipale bestuurder, Mzezana Makhosana, geëis dat die probleem onverwyld opgelos word.
Inwoners van die Pinehaven-landgoed wat naby aan die rioolstorting woon, kla oor die ondraaglike stank.
Die VF Plus het in Mei verlede jaar die Groen Skerpioene gevra om ʼn voortslepende rioolstorting by Pinehaven te ondersoek.
Riool het in daardie stadium oor erwe in die landgoed se grasperke en strate gevloei.
Die munisipaliteit het inderhaas ná die ondersoek die rioolpomp herstel.
Intussen het die probleem weer opgeduik en die party sal nie huiwer om weer die Groen Skerpioene te nader nie.


