Die VF Plus in Limpopo sal sy visier rig op dienslewering in die volgende termyn met die nuutverkose premier, me. Phophi Ramathuba, aan die stuur van sake.
Met die provinsiale openingsrede, wat pas (2 Augustus) in Polokwane gehou is, is straks ʼn vals indruk geskep met betrekking tot planne vir die provinsie se vooruitgang.
Ramathuba is die eerste vroulike premier van die provinsie en alle oë sal op haar gerig wees om te sien of sy oor die nodige leierseienskappe beskik om verbetering aan die provinsie se ekonomiese vooruitsigte te bring.
Veral paaie, water en veiligheid is van die grootste uitdagings vir Limpopo. Landelike en stedelike gebiede gaan gebuk onder jare se verwaarlosing van infrastruktuur en finansiële wanbestuur.
Die party het ook reeds sy kommer uitgespreek oor die beplande Musina/Makhado-spesiale ekonomiese sone (MMSES) in die Vhembe-distrik (Louis Trichardt, Musina) van Limpopo wat ’n bedreiging inhou vir landbou, watersekerheid, toerisme, die omgewing en die kulturele- en fossielerfenis.
Ekonomiese ontwikkeling moet in balans geskied en die skade aan die natuur en die huidige klimaatkrisis moet daarteen opgeweeg word.
Dit is vir die party ook onaanvaarbaar dat gevestigde boere dit op hulself moet neem om op eie koste paaie te herstel.
Gedurende Julie vanjaar het die party met boere vergader wat weens veldbrande en swartryp al hul oeste verloor het.
Daar is aan die VF Plus ‘n mandaat toevertrou om eise aan die betrokke departemente voor te lê. Die party sal wil sien dat die premier rede sal insien om die situasie as ’n ramp te verklaar en hierdie boere bystaan.
Finansiële verliese van sowat R200 miljoen is reeds by die party se provinsiale kantoor ingedien.
Die party se lid van die wetgewer sal op Woensdag, 7 Augustus, met departementshoofde van landbou en openbare werke vergader om moontlike hulp te verleen aan boere.
Boere wat kos op die tafel sit, moet beskerm en bygestaan word waar hulp nodig is om te verseker dat daar voldoende en volhoubare voedselsekerheid in die provinsie is.
Wat die hoë misdaadvlakke in die provinsie aanbetref, wil die party graag sien dat die premier pogings prioritiseer om die instroming van misdadige elemente by ons grense te bekamp.
Polisie-optrede tussen 29 Julie en 4 Augustus het gelei tot die inhegtenisneming van 400 ongedokumenteerde buitelanders.
Dit is noodsaaklik dat die veiligheid van die Limpopo-inwoners vooropgestel word en alle pogings daarop gerig moet wees om te verseker dat dissipline by die grense in lyn is met immigrasiewette en -prosedures.
Ramathuba het hierdie termyn ’n gulde geleentheid om te bewys dat dade harder spreek as woorde.