Die VF Plus het ʼn strafregtelike klag aanhangig gemaak teen die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit wat tot dusver geen stappe geneem het om die ernstige storting van onverwerkte riool in belangrike natuurlike waterbronne stop te sit nie.
Die party het sedert 2023 reeds verskeie dringende skrywes gerig aan die direkteur van tegniese dienste, mnr. Colin Bruintjies, asook die munisipale bestuurder, mnr. Humphrey Sizwe Mayisela, oor die aangeleentheid.
Die klag is ingedien by die Witbank-polisiekantoor en spruit voort uit klagtes van die gemeenskap wat die party genader het om hulp.
Die munisipaliteit, wat Kriel, Ogies, Phola en Emalahleni / Witbank bedien, het versuim om daadwerklik met die rioolkrisis te handel ten spyte van die party se skrywes.
Die VF Plus het die munisipaliteit versoek om onverwyld ʼn oplossing te vind vir die riool wat vanuit die Paul Sauer-park in Witbank in die Doringpoortspruit vloei waarna dit direk in die Witbankdam beland.
Ondergrondse waterbronne is al só erg besoedel dat inwoners met boorgate nie die water vir menslike gebruik kan aanwend nie.
Dit is skandalig dat die ANC-beheerde munisipaliteit ooglopend toelaat dat kosbare natuurlike hulpbronne besoedel word en gemeenskappe se gesondheid op die spel geplaas word.
Die VF Plus sal sy druk volhou en die saak monitor.