fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC-minderheidsregering in Gauteng aanvaar VF Plus se voorstel om ekonomiese beleidsplan op te dateer

Die VF Plus het die ANC-minderheidsregering in Gauteng oortuig om die provinsie se ekonomiese beleidsplan, ook bekend as die ‘Growing Gauteng Together 2030’ (GGT2030), op te dateer.

Dit sal ʼn gesamentlike poging wees van al die politieke partye verteenwoordig in die wetgewer. Die publiek sal ook insette kan lewer.

Die VF Plus het tydens die begrotingsdebat van die premier se kantoor aangedui dat die bestaande ekonomiese beleidsplan in 2014 geformuleer is en verouderd is.

Dit is ingehaal deur verskeie gebeure soos die Covid-19-pandemie en grendelstaat, die inligtingstegnologies-geleide ekonomiese ontploffing en groei wêreldwyd waaraan die provinsie nie deelgeneem het nie, die deïndustrialisering en uitvloei van beleggings uit die provinsie en die koms van kunsmatige intelligensie (KI) wat ʼn groot effek op die arbeidsmark gaan hê.

Die party het verder benadruk dat die kiesers van Gauteng gepraat het en dat geen party alleen behoort te regeer en beleid te bepaal nie.

Daarby het die GGT2030 nie bygedra tot die skep van ‘n beter ekonomiese omgewing in Gauteng nie en het dié provinsie steeds die meeste werklose mense in die land.

Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het in sy reaksie op die debat die VF Plus se voorstel aanvaar.

Die VF Plus sal nou sorg dat die konsultasieproses met alle rolspelers begin om insette te verkry van veral die groter publiek, sake-eienaars, ekonome, toekomskundiges, openbare verteenwoordigers en ekonomiese praktisyns in state waar ekonomiese groei suksesvol plaasvind.

Die GGT2030 vereis veral as een van sy grondslae dat die beleid wat daarin vervat word, bewys-gedrewe moet wees.

Dit skep daarom die geleentheid om ekonomiese beleid wat werklik bewese is, uiteindelik in Gauteng te implementeer en weg te beweeg van verstokte sosialistiese beleid wat reeds aan die einde van die Koue Oorlog die gees gegee het.

Indien die proses reg bestuur word, kan ondernemingsvriendelike beleid wat werklike ekonomiese groei en werkskepping verseker deel van die ekonomiese beleidsplan in Gauteng word en kan daar weer hoop wees om Gauteng as die ekonomiese enjinkamer van Suid-Afrika op dreef te kry.

Hierdie inisiatief van die VF Plus vorm deel van sy strategie om te herstel en te bou.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.