Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Beurtkrag deur munisipaliteit en Eskom het vernietigende gevolge vir Govan Mbeki-munisipaliteit

Die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit moet sonder verwyl sy betalingsooreenkoms met Eskom nakom om die inwoners nie verder onnodig te verontrief nie.

Die VF Plus eis dat Mpumalanga se LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Vusi Mkhatshwa, sowel as die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Mandla Ndlovu, oplossings vind om die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit se betalingsooreenkoms met Eskom te eerbiedig.

Die grootste verloorders tans is die munisipaliteit se inwoners en ondernemings wat swaar getref word deur die elektrisiteitsbeperking weens die wanbetaling. Dit is afgesien van gewone beurtkrag wat reeds uiters negatief is.

Eskom het sy kragvoorsiening na die Govan Mbeki-munisipaliteit (Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt) verminder as gevolg van wanbetaling en dit het gelei tot die instelling van munisipale beurtkrag in veral Bethal.

Die munisipaliteit se Eskom-skuld beloop sowat R2.8 miljard. Sedert Eskom fase 6-beurtkrag ingestel het, word inwoners soms tot so lank as 24 uur sonder krag gelaat. Sakeondernemings, ouetehuise en inwoners ly groot ongerief en skade in die proses.

Die kwessie sloer al sedert 2018 omdat die raad nie sy verpligtinge teenoor Eskom nakom nie.

Die skade aan die ekonomie is verwoestend en die skending van menswaardigheid net so erg.

Dit is onaanvaarbaar dat dienslewering gestriem word deur onbevoegdheid en munisipale wanadministrasie. Om sake te vererger het kabeldiefstal tydens beurtkrag ook drasties toegeneem.

Die Govan Mbeki-munisipaliteit word tans deur die openbare beskermer (OB) ondersoek nadat die VF Plus 'n klag gelê het weens die aanhoudende kragonderbrekings.

Die VF Plus wag nog vir die uitslae van hierdie ondersoek, maar intussen word ‘n groot onreg gedoen aan die betalende verbruikers van Govan Mbeki.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.