‘n Onlangse meningsopname van die landbou-organisasie Saai onder boere oor die bek-en-klouseerkrisis toon ondubbelsinnig dat die departement van landbou se burokratiese-, sowel as politieke leierskap, die vertroue van boere verloor het. Dit behoort tot vernuwing binne dié departement te lei.
Die peiling, met meer as 2000 individuele deelnemers, toon dat 95% of meer van die respondente meen die reaksie oor die siekte was te stadig, dat die uitrol van entstof swak bestuur word en dat kundiges stilgemaak word. Die algemene stelling dat leierskap gefaal het, word deur 87% gesteun.
Terwyl veeboere wag vir entstowwe wat teen die einde van Februarie uit Argentinië en Turkye behoort aan te kom, is dit reeds te laat vir die suksesvolle beëindiging van die krisis. Al wat oorbly, is om skade so ver as moontlik te beperk.
Die ministeriële taakspan wat in 2016 aangestel is om die moontlike impak van ‘n uitbreking van bek-en-klouseer te ondersoek, het die soort dringendheid aanbeveel wat eers sedert 2026 die departement se optrede begin kenmerk het.
Die land het hier te doen met ‘n ineenstorting van regering, vergelykbaar met beurtkrag. Dit is ondenkbaar dat dieselfde amptenare wat die departement in hierdie krisis in bestuur het, met die taak vertrou word om die land daaruit te lei.
In ‘n onderhoud met Rapport op 15 Februarie 2026 het die minister van landbou, mnr. John Steenhuisen, verklaar dat sy departement hom en die parlement mislei het oor hulle vordering met vervaardiging van entstof en oor die vermoë om die bestryding van die siekte te bestuur.
Dit dui op ernstige gebreke in die administrasie van die departement, sowel as die politieke beheer daaroor. Die gevolg is ‘n siekte wat so laat as die begin van 2025 nog tot enkele streke beperk kon word, nou buite beheer is.
Die VF Plus beskou die krisis as omvattend genoeg dat die minister van alle senior amptenare kan verwag om hulle volgehoue diens in die departement te motiveer, of dit te verlaat.
Die tyd raak ook op dat min. Steenhuisen kan aanvoer dat dit ‘n “oorgeërfde probleem” is. Hy moet verantwoordelikheid neem van die bykans twee jaar van sy eie administrasie, waartydens bek- en klouseer van geïsoleerde uitbrekings tot ‘n omvattende krisis geëskaleer het.


