Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Tyd het aangebreek vir Ramaphosa om te sê waar hy met die Afrikaner staan

(VF Plus-reaksie op Staatsrede 2026)

Die tyd het aangebreek vir pres. Cyril Ramaphosa om die Afrikaner in die oë te kyk en te sê waar hy met hulle staan.

Vir langer as dertig jaar hou die Afrikaner geduldig sy hand van samewerking uit met die opregte begeerte om saam te werk om van Suid-Afrika ‘n suksesvolle tuiste vir al sy inwoners te maak.

Hier versoenende hand word keer op keer weggeklap met verbreekte ooreenkomste en oneerlikheid. Die tyd het aangebreek dat daar erkenning en akkommodering van regmatige aansprake moet wees.

Die president se staatsrede het dit duidelik gemaak dat hy geen ware begrip het vir die land se probleme nie en alle probleme wil oplos met taakspanne of nóg beloftes wanneer dit te laat is.

Die waterkrisis, buitelandse beleid en die vertrapping van die Afrikaner wat nie eens mag besluit oor watter taal sy kinders op skool mag gebruik nie, is enkele voorbeelde.

Die ANC het die land oor langer as dertig jaar met vernietigende beleid soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie (RA) tot by die afgrond gedryf. Die president sal nou moet besef dit kan nie so voortgaan nie.

(Hier volg dr. Mulder se volledige toespraak. Dit is ook in Engels beskikbaar).

Geagte president.

Met u inhuldiging ná die 2019-verkiesing het u gesê: “Ja, Suid-Afrika, Thuma Mina” (stuur my). Ek belowe vandag hier dat ek u sal dien, ek sal saam met u werk, sy aan sy, om die Suid-Afrika te bou wat ons almal wil hê en verdien”.

Ek respekteer u daarvoor en ek weet dat u steeds probeer.

Vandag gaan ek in my moedertaal Afrikaans praat, maar uit respek vir u het ek u ‘n vertaalde kopie van my toespraak voorsien.

Ná daardie toespraak in 2019 was daar enorme verwagtinge in Suid-Afrika. Daar is geglo dat dit ‘n nuwe begin sou wees wat Suid-Afrika sou stuur in ‘n positiewe rigting vir almal. Almal was gereed om saam met u te sê “Thuma Mina – Stuur ons”

Maar nou, sewe jaar later, is dit duidelik dat dit glad nie so uitgewerk het nie. Dit was vermoeiend Donderdagaand om net te luister na die lang lys van probleme wat u genoem het, om nie van al die nuwe taakspanne te praat nie.

Elkeen van hierdie probleme het nie maar toevallig gebeur nie. Nee dit het gebeur onder die bewind van die ANC die afgelope 30 jaar. Entoesiasme en taakspanne verander dit nie.

Ons is nou op die punt waar hierdie land tot stilstand knars en vasval in die modder. Baie daarvan kan direk terugherlei word na ANC-ideologies gedrewe beleidsrigtings waaraan u en die ANC bly vasklou. Beleidsrigtings soos kaderontplooiing, swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB) en regstellende aksie (RA) wat nie werk nie.

Ek kan kortliks net drie ander sake aanspreek. Die eerste is waterverskaffing.

Om skoon water te hê, is ‘n basiese mensereg. Die krisis oor water is só groot dat u as president self daarvan beheer moet neem.

Watertekorte het nie oornag gebeur nie. Dertig jaar van ANC-wanadministrasie en geen poging om die infrastruktuur in stand te hou nie, het dit veroorsaak.

In die meeste dele van die land is daar meer as genoeg water – maar die pype lek en die pompe werk nie weens kaderontplooide amptenare wat nie weet hoe om die werk te doen nie. In Johannesburg is bereken dat tot 50% van die water met lekkende pype verlore gaan.

Tweedens buitelandse beleid.

Daar is geen verskil in die buitelandse beleid wat u in verskeie staatsredes hier uitgespel het voor en ná die totstandkoming van die regering van nasionale eenheid (RNE) nie. My probleem is dit bly die ANC se beleid en nie die beleid van ‘n RNE nie.

Tydens u toespraak het u oor buitelandse sake nek styf gemaak en ’n ramkat-houding ingeneem: Ons staan op ons soewereiniteit en ons sal ons nie laat boelie nie. Dit is als goed en wel – maar hardkoppigheid en blindheid vir wat tans in die wêreld aangaan, is nie ’n verskoning nie. Ons buitelandse beleid lei tans daartoe dat Suid-Afrika enorme ekonomiese skade lei.

U sê; “Suid-Afrika bly ‘n helder en duidelike stem ter ondersteuning van internasionale reg, geregtigheid en menseregte.” Dit is glad nie waar nie. Toe Rusland Oekraïne inval, toe vergeet Suid-Afrika van die internasionale reg. Toe Iran duisende van sy eie burgers doodskiet en vroue soos Zahra Tabari en Masha Amini ter dood veroordeel, toe maak menseregte nie saak nie. Nie ‘n enkele woord van veroordeling van Dirco of die RNE nie.

Verlede Vrydag het die minister van vroue, Sindisiwe Chikunga, ‘n toespraak by die Iranse ambassade gehou ter herdenking van hul rewolusie, maar nie ‘n woord oor hierdie menseregtevergrype nie. Hierdie standpunte is nie in nasionale belang nie en die VF Plus verwerp dit ten sterkste.

Ten slotte wil ek met u praat oor die Afrikaner en uitstaande kwessies hieroor tussen ons. Die Afrikaner en ander minderhede het waardering vir die pogings wat u aanwend om Suid-Afrika se probleme op te los. Ons sien dit raak.

Maar alleen gaan u dit nie regkry nie. U kabinet en al die taakspanne gaan dit ook nie regkry nie. Ek is bevrees die staatsdiens gaan dit ook nie regkry nie. Dit sal ‘n reuse poging verg van almal in Suid-Afrika – die politieke leiers, die burgerlike samelewing, die hele sakesektor, alle moontlike buitelandse hulp wat ons kan kry, asook die toewyding van elke Suid-Afrikaner. Dan het ons ‘n kans.

Hier is my hand. Die Afrikaner en ander minderhede reik uit na u vandag en sê ons sal help. Ons wil help, maar dit is nie onvoorwaardelik nie. Ons vra gelyke behandeling en erkenning.

Dit help nie u sê “ons sal nie vry wees solank die mense van Palestina en Wes-Sahara nie vry is nie”, maar in u eie land het ‘n Afrikanergemeenskap nie eers die reg om oor hul skool se onderrigtaal te besluit nie. Ons mag ook nie self besluit oor die aandeelhouding van ons eie besighede en maatskappye nie. Dis nie om vry wees nie.

Ek het vandag weer vir u ‘n kopie van die Akkoord oor Afrikaner-selfbeskikking gegee. Afrikanervryheid en selfbeskikking is ‘n uitstaande saak wat nie gaan weggaan nie. Laat ons dit hanteer.

In die verlede het die VF Plus ooreenkomste nagekom – gaan kyk ons geskiedenis. Maar nie die ANC nie. Dit lei tot Afrikanerwoede en-reaksie.

Twee voorbeelde: Die VF Plus het ons deel van die ooreenkoms in die Noord-Kaap na die verkiesing nagekom. Die ANC het dit blatant verbreek. Dit maak my kwaad en is ‘n ernstige vertrouensbreuk.

Ooreenkomste wat aangegaan is rondom die Belawet en onteiening sonder vergoeding is ook verbreek. Dan trek Afrikaners hul hand terug. Laat ons mekaar in die oë kyk en hierdie sake hanteer. Ons is gereed.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.