Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Onveilige gemeenskapsale in Lekwa stel inwoners se lewens in gevaar

Die VF Plus waarsku dat die haglike toestand van verskeie gemeenskapsale in die Lekwa-plaaslike munisipaliteit (wat Morgenzon en Standerton insluit) ʼn ernstige en onmiddellike gevaar vir inwoners, gemeenskapslede en personeel inhou.

Die dak van die uitbreiding 6-gemeenskapsaal het reeds ineengestort, terwyl die dak van die hoof stadsaal vier jaar gelede tydens ʼn storm beskadig is en nog nooit herstel is nie.

Die Stanwest-gemeenskapsaal verkeer in ʼn soortgelyke swak toestand weens jarelange gebrek aan onderhoud. Vir jare val dele van plafonne tydens vergaderings in, wat gemeenskapslede aan ‘n werklike risiko van beserings blootstel.

Hierdie sale word nie net vir vergaderings gebruik nie, maar ook verhuur vir private gesellighede, terwyl sekuriteitswagte en skoonmakers daagliks in die geboue werk.

In April 2025 het die VF Plus ʼn formele mosie ingedien om dringend op te tree oor die veiligheid van die sale. Die mosie is aanvanklik as “verlore” verklaar, maar ná herhaalde druk is dit uiteindelik as ’n gewone item voor die raad gebring. Daar is eenparig besluit dat alle betrokke sale onmiddellik gesluit moes word hangende ʼn volledige strukturele en veiligheidsinspeksie.

Ten spyte van hierdie duidelike besluit, word dit eenvoudig geïgnoreer. Die voortgesette gebruik van die geboue is nie net administratiewe nalatigheid nie, maar ʼn direkte skending van ʼn bindende raadsbesluit en die regsraamwerk.

Kragtens die Wet op Munisipale Stelsels is die munisipaliteit verplig om raadsbesluite in werking te stel, terwyl Artikel 152 van die Grondwet vereis dat munisipale dienste veilig en volhoubaar gelewer word. Die versuim om dit na te kom, ondermyn die oppergesag van die reg en kom neer op ernstige wanadministrasie wat die publiek se veiligheid ondergeskik stel aan amptenare se eie agenda.

Die VF Plus sal binnekort weer ʼn mosie indien om die bestaande raadsbesluit af te dwing, die onmiddellike sluiting van alle onveilige sale te eis, ʼn onafhanklike strukturele assessering deur gekwalifiseerde ingenieurs vereis, en ʼn volledige openbare verslag oor die toestand van die geriewe te publiseer.

Indien enigiemand beseer word, kan die munisipaliteit aanspreeklik gehou word vir skadevergoeding weens growwe nalatigheid.

Amptenare wat raadsbesluite doelbewus ignoreer, staar gevolgbestuur in die gesig kragtens die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA).

Die veiligheid van die publiek kan nie opgeoffer word ter wille van politieke gerief of administratiewe disfunksie nie.

Raadsbesluite is bindend en moet uitgevoer word. Die VF Plus sal nie toekyk terwyl lewens onnodig in gevaar gestel word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.