Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

OG-verslag bevestig ernstige wanbestuur in Victor Khanye-munisipaliteit

Die jongste ouditeursverslag vir die Victor Khanye-plaaslike munisipaliteit (Delmas) lê die omvang van finansiële wanbestuur en swak dienslewering duidelik bloot.

Die VF Plus wys lank reeds hierdie probleme uit en die syfers bevestig nou die party se ernstige kommer.

Sleutelbevindings van die ouditeur-generaal (OG) vir die finansiële jaar 2024/25 sluit in:
• Werknemerkoste het tot R265 miljoen gestyg – R18 miljoen meer as begroot.
• Instandhouding en noodherstelwerk het R58 miljoen beloop teenoor ’n begrote R42 miljoen.
• Kapitaalprojekte vir behuising en infrastruktuur het ’n toekenning van R120 miljoen ontvang, maar slegs R74 miljoen is bestee.
• Die OG het R12,4 miljoen as vrugtelose uitgawes en R87 miljoen as onreëlmatige uitgawes verklaar.

Hierdie wanbestuur beteken dat fondse nie doeltreffend gebruik word nie, terwyl inwoners daagliks ly onder gebrekkige watertoevoer, ongereelde vullisverwydering, stukkende paaie en infrastruktuur wat nie onderhou word nie.

Intussen skuif die plaaslike munisipaliteit, distriksmunisipaliteit en provinsiale regering die verantwoordelikheid heen en weer – ’n kat-en-muis-spel wat niemand wen nie en die gemeenskap in die steek laat.

Die VF Plus dring daarop aan dat die Mpumalanga-provinsiale regering sy grondwetlike plig nakom en onmiddellik ingryp by die Victor Khanye-munisipaliteit.

Streng finansiële dissipline moet afgedwing word, toekennings aan kapitaalprojekte moet ten volle benut word, inkomste-invordering moet verbeter en munisipale bestuurders moet aanspreeklik gehou word vir wanbestuur.

Die VF Plus sal die kwessie formeel in die wetgewer aanhangig maak en volgehoue druk uitoefen vir ’n duidelike, konkrete ingrypingsplan.

Slegs só kan die belange van inwoners beskerm word en volhoubare, betroubare dienslewering herstel word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.