fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC verdubbel die skade en ellende van elke natuurramp in Suid-Afrika (Debat in NRP: Oorweging van verslag van Ad Hoc-gesamentlike komitee oor vloedrampverligting en -herstel)

Vir baie mense in KwaZulu-Natal is volwit wolke en blitse in die verte nie meer ’n blote kaleidoskoop van kleur met die belofte van reën nie, maar ’n angswekkende herinnering aan twee rampe wat hulle getref het:

Een was ’n natuurramp waarin 448 mense ’n waterdood gesterf het. Daarna die mensgemaakte ramp wat die ANC geskep het. Soos met Covid-19 was die ware tragedie die korrupsie van ANC-kaders wat gierigheid bó die lot van mense gestel het.

Voeg daarby die totale onbevoegdheid van ’n regering wat nalaat om sy eie wette uit te voer, soos die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruik, die verontagsaming van munisipale wetgewing en verwaarloosde infrastruktuur, en dit raak duidelik hoe groot die vermydelike deel van die ramp was.

In gebiede soos Port Alfred het geskille oor munisipale en stamgrond daartoe gelei dat gesinne wat op gevaarlike plekke gewoon het, saam die modderwater meegesleur is.

Soos met Covid-19 was president Cyril Ramaphosa vinnig om ‘n miljard rand beskikbaar te stel om mense in nood te help en het sy belofte herhaal dat “geen korrupsie” geduld sou word nie.

Maar soos voorheen het korruptes hul stropingsplanne in plek gestel terwyl hy nog besig was om te praat. Intussen moes bankrot munisipaliteite en provinsies self sien en kom klaar.

Dit is ook nie regverdig teenoor belastingbetalers om keer op keer miljarde rande van hul swaar verdiende geld onder die vaandel van regeringsempatie te vermors nie.

In ’n debat oor dieselfde aangeleenheid in die Nasionale Vergadering (NV) het Michal Groenewald (VF Plus-LP) beaam dat baie menselewens gered kon word deur ’n bevoegde regering wat waarlik oor die lotgevalle van sy burgers omgee.

Lande regoor die wêreld het elk hul eie metodes en voorsorgmaatreëls in plek om hul bevolking teen natuurrampe te beskerm. Dit sluit in opvoeding, gesprekvoering en deeglike beplanning.

Suid-Afrika se Rampbestuurwet gee verantwoordelikheid aan al drie regeringsvlakke om strategieë in plek te stel vir tye van nood.

Teoreties klink die plan goed, maar die verskil tussen Suid-Afrika en ander lande is onbevoegde, korrupte en magsbehepte ANC-kaders wat geen deernis met rampslagoffers het nie, maar slegs na hul eie sakke omsien.

Met elke ramp wat Suid-Afrika oor die laaste jare getref het, was daar ’n bykomende ramp wat ewe veel ellende veroorsaak het. Die naam van daardie ramp is ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.