Die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van die Grondwetlike Demokrasie teen Terrorisme en Verwante Aktiwiteite is belangrik om die internasionale gryslys te vermy, maar ook vanweë die wesenlike gevaar van terrorisme in Suid-Afrika.
Die plaaslike stryd teen terrorisme moet aandag geniet en verbeter word. Tog kan die ANC nie vertrou word om nie só ‘n sensitiewe wet teen sy eie opponente te misbruik nie.
Verlede maand se waarskuwing van die Amerikaanse ambassade oor ‘n moontlike terroriste-aanval in Sandton was wel ‘n vingerwysing na Suid-Afrika se intelligensiedienste.
Alhoewel die regering dit probeer afmaak het as onbenullig, dui dit steeds op ernstige tekortkominge oor die land se vermoë om terrorisme te bestry.
‘n Regering soos die ANC kan egter sekere dele in die wet maklik misbruik om teen opponente op te tree om sodoende self die gerondwetlike demokrasie te ondermyn.
In die Suid-Afrikaanse konteks is veral die vervanging van subseksie 5 van die wet van belang waar dit lui:
Nieteenstaande enige bepaling in enige ander wet, en behoudens subartikel (4), sal 'n politieke, filosofiese, ideologiese, rasse, etniese, godsdienstige of enige soortgelyke motief nie vir enige rede, insluitend vir die doeleindes van vervolging of uitlewering, as 'n geregverdigde verweer dien ten opsigte van 'n misdryf waarvan die definisie van terroriste-aktiwiteit 'n integrale deel vorm nie.
Die VF Plus het ‘n politieke plig om seker te maak dat die regering bepalings soos hierdie nie misbruik nie. ‘n Verdere politieke doelwit is om van die ANC-regering ontslae te raak.
Daar is gevalle soos met Artikel 235 van die Grondwet oor die reg tot selfbeskikking wat die regering deur hierdie wet kan vertolk as deel van ‘n aksie van terrorisme.
Die VF Plus kan om hierdie rede nie die veranderinge aan die wet steun nie. Die ANC kan nie vertrou word met sulke sensitiewe wetgewing in sy hande nie.