Die ANC in die Mangaung-metro (Bloemfontein, Dewetsdorp, Soutpan, Van Stadensrus, Wepener) speel vir tyd om die verwyderde oud-burgemeester, Olly Mlamleli, in die komende munisipale verkiesing terug in haar pos te plaas.
Die ANC-beheerde raad sloer sedert die VF Plus se mosie van wantroue in me. Mlamleli in Augustus geslaag het, om 'n verkiesing vir 'n nuwe burgemeester te laat plaasvind.
Die ANC in die metro het vandag tydens ‘n raadsvergadering om die goedkeuring van die aanstelling van ‘n waarnemende burgemeester in die plek van ‘n reeds waarnemende burgemeester gevra.
Die VF Plus kan dié voorstel nie ondersteun nie en kan ook nie daartoe toestem dat ‘n oop mandaat gegee word aan die hoofsweep, speaker en die waarnemende burgemeester om na willekeur, wanneer hulle dit sou nodig ag, ‘n waarnemende burgemeester in die plek van ‘n reeds waarnemende burgemeester aan te stel nie.
Die ANC wil nie ‘n nuwe burgemeester aanstel nie en speel vir tyd om die burgemeester-aanstelling te laat sloer tot die munisipale verkiesing later vanjaar.
Dit is duidelik dat die ANC bereid is om stabiliteit in die Mangaung-metro doelbewus te saboteer om hul eie politieke agendas te bevorder. Die wyse waarop die ANC vir tyd speel is nie in die beste belang van die metro of sy inwoners nie en dit dra geensins by tot beter dienslewering nie.
Die VF Plus kan ook nie toestem tot die verhoogde toelaag wat die huidige waarnemende burgemeester en derhalwe die nuwe waarnemende burgemeester sal ontvang nie.
Sommige raadslede van die ANC het die VF Plus se mosie verlede jaar ondersteun, om Mlamleli verantwoordbaar te hou vir swak politieke leierskap. Dit is egter nou duidelik dat die regerende party geensins die belange van inwoners op die hart dra nie, maar eerder magsbehep en kortsigtig is.
Navrae: 082 305 1540