Die VF Plus beskou die uiteindelike afskakeling van die e-tolstelsel op 11 April 2024 as ʼn baie belangrike oorwinning van die burgery teen die ANC.
Daar moet in gedagte gehou word dat die ANC die e-tolstelsel op mense in Gauteng afgedwing het sonder ʼn behoorlike openbare deelnameproses. Die VF Plus is daarvan oortuig dat indien so ʼn proses, soos vereis word deur die Grondwet en Grondwethof-uitsprake, wel gehou was, sou die meeste Gauteng-inwoners teen die beplande e-tol gestem het en sou dit nooit ontstaan het nie.
Die feit dat die stelsel gebou is sonder enige behoorlike openbare deelname van die provinsie se inwoners, is eintlik simbolies van hoe die ANC die land tot dusver regeer het. Onnodige projekte word uitgedink en tenders word aan die hand daarvan uitgedeel aan ANC-kaders met fondse wat dan weer ʼn pad terug na die ANC vind.
Dit was nooit nodig om die bestaande snelweë in Gauteng, wat reeds in die vorige bedeling gebou en afbetaal is, met nuwe skuld te belas nie.
Dit is een van die redes waarom mense in opstand gekom het, aangesien hulle besef het dat padgebruikers sal moet betaal vir iets wat nie werklik nodig is nie.
Die VF Plus neem ook kennis van Sanral se standpunt dat padgebruikers nog steeds tot middernag 11 April 2024 e-tolfooie sal moet betaal, asook agterstallige rekeninge tot op daardie datum.
Die VF Plus beskou dit as onaanvaarbaar. Daarom sal die party ʼn ondersoek doen om te bepaal tot watter mate regstappe suksesvol geneem kan word om die agterstallige rekeninge af te skryf en rekeninge wat reeds betaal is, terug te eis.
Die VF Plus is van mening dat die afskakeling van e-tol tydens Panyaza Lesufi se administrasie nie die ANC van ʼn inploffing in Gauteng gaan red nie aangesien die inwoners reeds weet dat dit die ANC self is wat stelsel geskep het.
Die VF Plus was van die begin gekant teen die e-tolstelsel en die party het selfs hof toe gegaan as deel van die Tolhek-aksiegroep om e-tol te keer.
Uiteindelik het die druk van die party asook druk van burgerlike organisasies die ANC geknak.
Dit is ʼn les dat die ANC wel met sukses aangedurf kan word.


