Die integriteit van die land se grense moet herstel word. “Sagte” grense beteken dat mense die land binnestroom wanneer ekonomiese druk elders in Afrika toeneem. Dit beteken ook dat binnelandse goedere soos renosterhoring en buitelandse goedere soos vuurwapens en dwelms, deur die grense beweeg. Dit maak dit ook makliker vir gewetenlose handelaars om tariewe wat ingestel is om die plaaslike ekonomie te beskerm, te omseil. Die VF Plus dring aan op doeltreffende grensbeheer.
Immigrasie is ‘n natuurlike proses wat elke land poog om tot sy voordeel te bestuur. Dit beteken dat immigrante oor kennis en vaardighede moet beskik wat in die ontvangerland skaars is. Weens swak grensbeheer wat ook korrupsie insluit, is Suid-Afrika egter die ontvanger van groot getalle onwettige immigrante sonder dat hul potensiële bydrae beoordeel word. Hierdie onwettige immigrante plaas ook groot druk op waterbronne, gesondheidsorg, werksgeleenthede en ander maatskaplike dienste tot nadeel van die burgers van Suid-Afrika.
- Doeltreffende grensbeheer waar die integriteit van die land se grense herstel word.
- Sterk optrede teen korrupte amptenary.
- Beweging van dwelms, renosterhorings en vuurwapens oor ons grense moet gestop word.
- Onwettige immigrasie moet daadwerklik aangespreek word.


