Die kernprobleem in die ANC-beheerde Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) is nie net die daaglikse Infrastruktuurprobleme nie, maar die munisipaliteit se trae en dikwels afwesige terugvoering aan raadslede en inwoners.
Wanneer waterpype bars, substasies buite werking is en huishoudings vir ure of dae sonder noodsaaklike dienste sit, is beplanning en oplossings eenvoudig onmoontlik sonder tydige kommunikasie van die munisipaliteit.
Op 16 Mei het die VF Plus ’n groot wateronderbreking in Krugersdorp-Noord ses keer by die burgemeesterskomiteelid vir water, Peter Modise, aangemeld. Geen terugvoering is ontvang nie.
In stede daarvan het hy op ’n Whatsapp-diensgroep ’n snedige opmerking gemaak dat die party hom nie moet “polisieer” nie en dat hy eerder die wyksraadslid terugvoering sou gee.
Volgens die inligting wat op dieselfde groep gedeel is, het dit nooit gebeur nie. Inwoners het dus sonder ‘n verduideliking of tydraamwerk gebly.
Nog ’n voorbeeld is Derdestraat in Krugersdorp-Noord, waar inwoners reeds agt dae sonder water is. Die klagte is aangemeld, maar steeds is daar geen terugvoering.
Hierdie patroon van verskonings wat gewoonlik lui dat personeel beperk is, het ’n refrein geword wat frustrasie verdiep en vertroue afbreek.
Inwoners betaal duur vir dienste, maar kry swak kommunikasie en ’n stelsel waar verouderde infrastruktuur nie vervang of behoorlik onderhou word nie.
Voortdurende onderbrekings, ‘n gebrek aan verantwoordbaarheid en die arrogante afwysing van klagtes kan nie langer geduld word nie.
Die tyd het aangebreek dat inwoners hul stem laat hoor en die ANC-regering uit die kussings lig, sodat ’n bestuur aan bewind kan kom wat die belange van inwoners eerste stel.


