Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Middelburg Hoërskool-krisis simptoom van onderwyskrisis in Oos-Kaap

Die onlangse gebeure by die Middelburg Hoërskool wat bykans moes sluit weens finansiële probleme, is nie ’n geïsoleerde voorval in dié provinsie nie.

Dit dien as voorbeeld van die toenemende krisis waarin plattelandse skole in die Oos-Kaap verkeer.

Dié aangeleentheid het groot ontsteltenis en onsekerheid in die gemeenskap veroorsaak.

Die skool is in ’n benarde posisie geplaas nadat die Oos-Kaapse departement van onderwys vir ’n geruime tyd versuim het om die nodige onderwysers aan te stel en hul salarisse te betaal. Om onderrig voort te sit, moes die skool meer as R700 000 uit sy eie beperkte fondse aan salarisse bestee.

Plattelandse skole in die Oos-Kaap is dikwels die spilpunt van hul gemeenskappe, nie net as plekke van onderrig nie, maar as ruimtes van stabiliteit, ontwikkeling en hoop vir honderde kinders en hul gesinne.

Wanneer sulke skole onder toenemende druk kom, voel die hele gemeenskap die impak: van plaaslike ekonomiese aktiwiteite tot die toekomsvooruitsigte van jongmense.

VF Plus-verteenwoordigers het die skool besoek om ondersteuning aan die skool en die beheerliggaam te betoon en die omvang van die situasie eerstehands te bespreek. Die party het bevestig dat hy bereid is om op provinsiale-, én, indien nodig, nasionale vlak in te gryp om die saak te help beredder.

Tydens die besoek het ’n verteenwoordiger van die provinsiale onderwysdepartement ook met die skoolbestuur vergader. Die uitkoms lyk positief en dit blyk dat die uitstaande salarisse en formele aanstellings van die betrokke onderwysers teen Vrydag afgehandel sal wees.

Die VF Plus sal op hoogte bly van verwikkelings by die skool en sal weer toetree indien nodig.

Die toekoms van die sowat 200 leerders en 10 onderwysers is van groot belang. Kwaliteitonderwys in plattelandse gebiede is nie onderhandelbaar nie.

Die verval van plattelandse skole lei tot die verlies van jong talent, strem ekonomiese groei en verdiep die siklus van armoede.

Daarom bly dit noodsaaklik dat skole, opvoeders en leerders die ondersteuning ontvang wat hulle nodig het waar die staat tekort skiet.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.