Dit is ongelooflik dat die Ekurhuleni-metro op 25 en 26 September die Wêreldomgewingsgesondheidsdag vier onder die tema “Skoon Lug, Gesonde Mense” terwyl inwoners na hul asems snak weens die lugbesoedeling in dié metro.
In stede van skoon lug en toeganklike gesondheidsorg, leef inwoners daagliks in ʼn besoedelde omgewing en sukkel om basiese mediese sorg te ontvang.
Dié glansryke geleentheid vind plaas by die Birchwood Hotel en OR Tambo-konferensiesentrum waar sowat 500 afgevaardigdes, insluitend die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi en Gauteng se LUR vir gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, oor luggehalte gaan debatteer.
Die VF Plus beskou hierdie viering as ʼn klug en ʼn bewys van ʼn regering wat van sy mense vergeet het.
Die metro se tien luggehalte-meetstasies, geleë in onder meer Springs en Tembisa, funksioneer nie behoorlik nie. Sommige is beskadig weens vandalisme, terwyl ander eenvoudig nie herstel word nie weens begrotingsverskuiwings. Dit beteken die metro het geen akkurate data oor die werklike toestand van die luggehalte nie, terwyl inwoners se gesondheid daagliks skade ly.
Fondse wat bestem was vir die herstel van luggehalte-meetstasies, is geherkanaliseer en die tenderproses vir herstelwerk is steeds nie afgehandel nie. Dit is ʼn duidelike teken dat die metro nie sy inwoners se gesondheid prioritiseer nie.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) dra besoedelde lug by tot respiratoriese siektes, hartkwale en miljoene siektes wêreldwyd.
Verder verkeer Ekurhuleni se meer as 100 klinieke in ’n toestand van verval. Daar is ’n tekort aan mediese personeel, onvoldoende medisyne en gebrekkige toerusting. Verskeie geriewe het lekkende dakke en geen kragopwekkers om op terug te val tydens kragonderbrekings nie. Dit belemmer die verskaffing van noodsaaklike gesondheidsorg veral aan behoeftiges wat staat maak op openbare klinieke.
Terwyl inwoners sukkel met besoedelde lug, stukkende klinieke en basiese dienslewering wat faal, kies die stadsleiers om hul tyd en geld te bestee aan simboliek eerder as substansie.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen totdat die metro se prioriteite weer in lyn kom met die daaglikse stryd van gewone inwoners.


