Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

ANC-raadslede van Randwest-munisipaliteit minag demokrasie

Die ANC-raadslede van die Randwest-plaaslike munisipaliteit (Randfontein en Westonaria) se minagting van demokratiese prosesse het veroorsaak dat opgewentelde raadslede van dié munisipaliteit na die Wes Rand-distriksmunisipaliteit nie ingehuldig kon word nie.

Met gister se raadsvergadering van die Wes Rand-distriksmunisipaliteit kon raadslede nie tot ‘n vergelyk kom oor watter verkiesingsuitslag vir opgewentelde raadslede van die Randwest-munisipaliteit aanvaar moet word nie.

Die vergadering van die Randwest-munisipaliteit om opgewentelde raadslede aan te wys, is twee weke gelede ontwrig toe ANC-raadslede nie die verkiesingskommissie (OVK) wou toelaat om die stemboks na die afloop van die verkiesing te open om die stemme te tel nie. Die OVK het die stemboks verwyder en verlede Vrydag tydens ‘n raadsvergadering teruggebring en die stemme getel.

Volgens dié uitslag kon die VF Plus een raadslid opwentel na die distriksmunisipaliteit, die ANC drie, DA twee en EFF twee.

Die speaker van Randwest, Dumile Sithole, het egter aangedring op ‘n herverkiesing sonder die teenwoordigheid van die OVK.

Die VF Plus het geen ander keuse gehad as om die vergadering te verlaat as om deel te neem aan ‘n ongrondwetlike stemming nie.

Met die uitslag van die herverkiesing is vyf setels aan die ANC en drie aan die EFF toegeken.

Die openlike minagting van demokratiese prosesse is een van die redes waarom plaaslike regering onder die ANC totaal misluk.

Die Randwest-munisipaliteit is een van die swakste munisipaliteite in Gauteng en inwoners gaan daagliks gebuk onder dienslewering probleme.

Die ANC-raadslede minag die kiesers van die munisipaliteit se keuse met hul optrede. Die kiesers het gepraat en die ANC moet nou luister.

Indien die ANC ‘n voorstaander is van die demokrasie, sal hy die uitslag van die verkiesing aanvaar en wat daaruit voortvloei soos die aanwys van opgewentelde opposisieparty-raadslede na distriksmunisipaliteite en as burgemeesters, speakers en hoofswepe.

Die fokus van munisipale rade moet nou wees op dienslewering aan inwoners en nie op kleinlike politiek nie.

Die VF Plus het ‘n klag by die OVK in Gauteng ingedien waarin gevra word om die ondemokratiese herverkiesing van Randwest te ondersoek.

Die OVK het reeds in ‘n skrywe aan die party dit duidelik gestel slegs die uitslag van die kommissie word aanvaar.

Die VF Plus sal nie die ondemokratiese optrede van die ANC in die munisipaliteit duld nie en sal veg vir inwoners se reg op ‘n verantwoordbare munisipale raad wat hul belange eerste stel.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.