fbpx
Vryheidsfront Plus

Menseregtedagdebat in parlement

Speaker,

Gister het die agbare adjunkpresident gesê dat ons almal as leiers moet optree teen die kanker van rassisme.

Ek stem honderd persent saam. Leiers moet die voorbeeld stel. Maar kom ek gee ‘n voorbeeld om te wys hoe ‘n ingewikkelde land Suid-Afrika is.

Onlangs is ‘n bejaarde egpaar naby De Wildt op hulle kleinhoewe deur drie jong mans aangeval. Mnr. Motswaledi Moloto is 80 en sy vrou Constance Moloto 74. Die aanvallers was drie jong wit mans. Die jong witmans het mev. Constance Moloto met ‘n byl aangerand en rassistiese opmerkings gemaak. Toe mnr. Motswaledi Moloto nie die sleutels van sy motor vir die jong witmans wou gee nie, het hulle ‘n strykyster warm gemaak en hom op sy bene gebrand. Die bure wat hom later na die hospitaal geneem het, het beskryf hoe die vel van sy bene afgeval het as gevolg van al die brandwonde aan sy bene.

Is hierdie gewone misdaad of is dit rassisme? Hieroor kry jy verskillende menings. Ek sal dit as wit rassisme beskryf vanweë die wreedheid van die misdaad en die rassistiese opmerkings.

Die aanval het vroeër vanjaar plaasgevind met een verskil. U het nie daarvan in die media gelees nie. Die koerante en televisie het dit grootliks geïgnoreer. Hoekom? Omdat die aanval nie op mnr. Moloto was nie maar op die bejaarde egpaar Hannes en Annetjie van der Merwe van De Wildt. Hulle is wit en die aanvallers was swart. As dit drie jong witmans was op ‘n swart egpaar sou dit Suid-Afrika tot stilstand geruk het; elke radio geselsprogram sou ure oor die rassisme uitgewei het, die menseregtekommissie sou dit onmiddellik ondersoek het en politici sou woedende verklarings daaroor uitgereik het.

Waarom hierdie dubbele standaarde? Is dit politieke korrektheid? Is joernaliste bang om die waarheid te sê?

Natuurlik is dit nie net wit boere wat doodgemaak word nie. Elisa Mokoenat en Augustine Kgojana, twee plaaswerkers is tydens ‘n aanval verwurg en in die maag geskiet. Verlede jaar in die Vrystaat is ‘n swart kommersiële boer deur aanvallers doodgeskiet en sy vrou in die kop geskiet.

Statistiek wys dat in Suid-Afrika baie meer swart as wit mense vermoor word. Die wêreld se gemiddelde moordsyfer is 7 uit 100 000. Die Suid-Afrikaanse syfer is 31. Vir polisielede is dit 54 en vir plaasboere en werkers is dit 133. Duidelik ‘n krisis.

Artikel 12 van die grondwet lui:

Elkeen het die reg op vryheid en sekerheid van die person waarby inbegrepe is die reg om

c. vry te wees van alle vorme van geweld van hetsy openbare hetsy private oorsprong;

d. op geen wyse gemartel te word nie; en

e. nie op ‘n wrede, onmenslike of vernederende wyse behandel of gestraf te word nie.

Toe transitorooftogte ‘n krisis was, het die minister dit ‘n prioriteitsmisdaad gemaak. Binne twee jaar was die probleem grootliks opgelos. Waarom kan dit nie ook met plaasmoorde gedoen word nie?

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.