Nasiebou is nie iets wat met wette afgedwing kan word nie. Dit is iets wat vrywillig moet gebeur. Dit moet uit die hart kom. Die ANC se eensydige uitbeelding van Suid-Afrika se geskiedenis skep tans nie ‘n omgewing wat bevorderlik is vir nasiebou nie.
Hier volg die toespraak wat dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, gister met die begrotingsposdebat vir kuns en kultuur oor dié onderwerp gelewer het:
Voorsitter,
Een van die take van hierdie departement is nasiebou. Hoe doen jy dit? Kan jy nasiebou afdwing met wette en verpligte aksies?
Nee, jy kan nie.
Mense wat nie belasting wil betaal nie, kan daartoe gedwing word deur hulle te beboet en te vervolg totdat hulle belasting betaal.
Mense wat nie padreëls nakom nie, kan daartoe gedwing word met boetes en spoedlokvalle. Maar, die vorige regering kon nie mnr. Nelson Mandela dwing om soos hulle te dink nie, al het hulle hom vir dekades in die tronk gehou.
Net so kan hierdie regering nie vir my of enige minderheidsgroep dwing om ‘n nasiebou-resep te aanvaar as ons nie daarmee saamstem nie.
Suksesvolle nasiebou moet vrywillig wees – anders sal dit nie slaag nie.
Daarom sê ek dat hierdie departement se taak om nasiebou te laat slaag, moeiliker as enige ander departement se taak is.
Die ANC se “struggle”-geskiedenis is ‘n belangrike deel van Suid-Afrika se geskiedenis. Dit is egter net ‘n deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat strek van die stigting van die ANC in 1912 tot 1994. Daar is ook die Khoi en die San se “struggle”-geskiedenis, die Griekwas s’n; die Afrikaner se “struggle”-geskiedenis teen die Britte, en talle meer.
Tans word die ANC se “struggle”-geskiedenis op elke vakansiedag herdenk. Ons hoor net dit in toesprake. Die res word verswyg of verdraai.
Een voorbeeld: In my tuisdorp Potchefstroom was die stadsraad se beleid die afgelope honderd jaar dat ons geen straat na ‘n politieke figuur vernoem nie. Daar is nie ‘n Verwoerd-, of Vorster- of PW Botha-straat nie. Slegs persone wat ‘n bydrae tot die dorp gemaak het, is vernoem. Na die ANC oorgeneem het, is dit verander. Die strate is nou na slegs ANC-helde vernoem. Die PAC het na my gekom en gekla dat hul helde, soos Robert Sobukwe, nie vernoem is nie; die Khoi het kom kla wat van Autshumao, die Afrikaners het kom eis dat hulle helde soos genl. De Wet of Delarey ook nou vernoem moet word.
Dieselfde geld die standbeelde. Dit is belangrik dat standbeelde ons hele geskiedenis moet weergee. Jy kan nie net Afrikaner-standbeelde of net ANC-“struggle”-helde hê en die res van ons geskiedenis wegsteek asof dit nie gebeur het nie. Daarom het Afrikaners koloniale standbeelde soos die van Koningin Victoria en Rhodes gelaat na hulle oorwinning in 1948.
Ek het namens die VF Plus in 1995 in hierdie parlement voorgestel dat daar ‘n standbeeld van president Mandela by die parlement bygevoeg moet word. Dit is entoesiasties deur die ANC aanvaar maar nooit gedoen nie.
Nou storm die jeug, wat met slegs die ANC se “struggle”-geskiedenis en -helde grootgemaak is, standbeelde van president Kruger, my held en ander helde uit die “struggle” van Afrikaners teen Britse imperialisme en Europese kolonialisme.
Op hierdie manier kan ons nie nasiebou nie. U kan my en ander groepe nie met wette of ander aksies dwing om afstand te doen van dit wat vir ons belangrik uit die verlede is nie.
U kan wel ons en alle ander groepe wat tans misken voel, se vrywillige en entoesiastiese samewerking kry as ons voel daar is ook ‘n plek vir ons en vir dit wat vir ons belangrik is.
Tans slaag hierdie departement nie om daardie nasiebou-resep te kry wat tot vrywillige samewerking van almal sal lei nie.
Kontaknommers: 083 419 5403 / 083 419 5403