Die regskoste vir die hofsake van voormalige president Jacob Zuma vandat hy in 2009 president van Suid-Afrika geword het, beloop altesame R24,24 miljoen (R24 240 201).
Die inligting is gegee in ‘n geskrewe antwoord van die minister van justisie en korrektiewe dienste, mnr. Michael Masutha, op ‘n parlementêre vraag van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus. (Vraag en antwoord meegaande)
Zuma het hom oor vyf aangeleenthede sonder enige sukses tot die hof gewend. Slegs een van hierdie aangeleenthede is gefinaliseer. Hy het feitlik elke keer van ten minste drie advokate gebruik gemaak, en in een geval selfs van vyf.
Die feit dat Zuma nie een van die sake gewen het nie, dien as bewys dat belastingbetalers se geld vermors is om hom uit die moeilikheid te hou.
In die geval waar die nasionale vervolgingsgesag (NVG) ‘n deursoekingslasbrief verkry het om die kantore van onder meer Thint te deursoek, asook ‘n skrywe van die NVG aan die owerhede in Mauritius om sekere dokumente te verkry, wat deur Zuma teengestaan is, het die koste R15,3 miljoen beloop.
Hierdie saak is tot in die Grondwethof gevoer en is ook daar deur Zuma verloor. Dit is die enigste aangeleentheid wat gefinaliseer is.
In die saak waar Zuma die wetlike magte van die Openbare Beskermer (OB) bevraagteken het wat betref haar verslag oor Nkandla, het die koste R3,2 miljoen (R3 196 492) beloop en Zuma het vyf advokate gebruik. Die saak is ook tot in die Grondwethof gevoer.
Nog ‘n voorbeeld oor die verkwisting van belastinggeld vir Zuma se regskoste is die saak wat hy gevoer het om die OB te probeer verhinder om die verslag oor staatskaping uit te reik. In dié geval het Zuma drie advokate gebruik en die koste het R2,5 miljoen (R2 530 135) beloop.
In Zuma se appèl teen die DA se versoek om redes bekend te maak vir die afdanking van die vorige minister van finansies, Pravin Gordhan, en sy adjunk, Nhlanhla Nene, is ook drie advokate gebruik en die koste was R1,2 miljoen (R1 247 617). Hierdie saak is nou geskeduleer vir 2 Mei in die Appèlhof.
Die vraag oor Zuma se regskostes is reeds in November verlede jaar gevra. Minister Masutha het toe nie geantwoord nie, en die vraag moes herhaal word om ‘n antwoord te kry.
Dit dien as bewys dat die minister probeer het om Zuma te beskerm terwyl hy nog president was, en eers bereid was om die inligting te gee nou dat Zuma nie meer die pos beklee nie.
Uit bogenoemde is dit duidelik dat Zuma misbruik maak van belastinggeld waar tot vyf advokate gebruik word wat kostes onnodig opjaag om hofsake te voer wat hy elke keer verloor. Dit is die VF Plus se standpunt dat hy persoonlik vir die regskoste aanspreeklik gehou moet word.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216