Na die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se stilswye verlede week op vrae van die VF Plus oor ‘n moontlike belegging van staatsamptenare se pensioengeld in die maatskappy Sagarmatha van Iqbal Survé, blyk dit nou dat ‘n reuse belegging wel op die kaarte was.
Luidens ‘n berig van Netwerk24 gister (Sondag) is daar ‘n dokument wat aandui dat die OBK ‘n belegging oorweeg het, en moontlik selfs die belegger was wat bereid sou wees om R3 miljard in Sagarmatha te belê wat die maatskappy in staat sou stel om verlede Vrydag te noteer.
Die VF Plus het sedert vroeg verlede week met die OBK hieroor kop gestamp. Skrywes met vrae is aan die OBK gestuur waarin antwoorde oor ‘n moontlike belegging gemaak is, en die party het dit duidelik gemaak dat hy stappe sou neem indien dit wel die geval sou wees.
Luidens die berig het die OBK verlede week teen ‘n belegging besluit en die VF Plus verwelkom dit. Die saak sal egter nie daar gelaat word nie en die party sal steeds van die OBK versoek om te antwoord op die beweringe in die berig.
Die VF Plus sal voortgaan om as waghond oor die OBK op te tree ten einde staatsdiens-pensioenarisse se belange te beskerm en om twyfelagtige beleggings te ontbloot en stop te sit.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216