Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Zuma moet onsekerheid oor vele sake uit die weg ruim met staatsrede

Verwarrende uitsprake oor die ekonomie en bespiegelings oor ‘n moontlike kabinetskommeling stuur deurentyd verkeerde seine na voornemende beleggers en pres. Jacob Zuma moet met die staatsrede hierdie onsekerhede uit die weg ruim, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald sê die ANC het onlangs gereeld uitsprake gemaak oor ‘radikale ekonomiese transformasie’. Hy sê die president sal duidelik moet uitspel wat hy daarmee bedoel en watter sektors die hardste daardeur geraak gaan word sodat beleggers kan weet wat om te verwag.

“Die ekonomie moet nou gestimuleer word om werk te skep, maar die ANC-regering doen die teenoorgestelde en grawe homself al hoe dieper in ‘n ideologiese groef in terwyl die ekonomie juis duidelike rigting, vernuwende denke en praktiese oplossings nodig het.

“Die president skep met sy eie optrede ook geen vertroue nie. Sprake van ‘n moontlike kabinetskommeling is erg nadelig, en hy sal hier ook duidelikheid moet gee.

“Indien dit wel op die kaarte is, moet hy dit bespreek en dan so gou as moontlik uitvoer om sekerheid te bring.

“’n Derde aspek wat hy sal moet behandel is die veiligheidsituasie in Suid-Afrika. Die totale strafregstelsel in die land, wat justisie insluit, word deudie president gemanipuleer tot voordeel en beskerming van homself en sy lojaliste.

“Hy sal eenvoudig streng moet begin optree teen mense soos die onbevoegde Shaun Abrahams, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), wat reeds in November verlede jaar redes moes aanvoer waarom pres. Zuma hom nie moet afdank nie. Die skep die indruk van bevoordeling en beskerming.

“Net so met die geskorste polisiekommissaris Riah Phiyega. Zuma het haar aangestel, en hy kan haar afdank. Die president sal die strafregstelsel moet regruk, en dit kan net gebeur as bekwame en bevoegde mense aangestel word.

“Daar moet ook duidelik uitsgespel word presies wat die sogenaamde witmonopoliekapitaal is wat volgens die ANC ‘n struikelblok in die pad van transformasie is. Die enigste monopolieë waarvan die VF plus bewus is, is staatsentiteite in die hande van die ANC.

“Die aanhoudende verdagmaking van wittes as verskoning vir die ANC se mislukkings kan nie langer geduld word nie,” sê dr. Groenewald.

 

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.