fbpx
Vryheidsfront Plus

Jammer dat wittes in staatsrede die skuld kry vir Zuma en ANC se mislukkings

President Jacob Zuma se staatsrede het niks prakties geopenbaar wat Suid-Afrika se ekonomie sal laat groei nie en sy fokus op wit mense asof hulle die ekonomie beheer, steeds die topposte beklee en nog steeds meer verdien as swartes, is niks anders nie as ‘n rassistiese aanval op witmense, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald sê die president misbruik wit mense in die proses as ‘n rookskerm om sy eie onvermoë en onbevoegdheid weg te steek.

“Om die ekonomie te laat groei, moet hy eerder ‘n moratorium plaas op regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB). Dit is jammer dat soveel struikelblokke in wittes se pad geplaas word aangesien hulle graag ‘n bydrae wil lewer om die ekonomie te laat groei en werk te skep.

“Al wat pres. Zuma in sy staatsrede gesê het oor die sogenaamde radikale ekonomiese transformasie is die besluite wat die ANC in Januarie by sy bosberaad geneem het wat dit duidelik maak dat die ANC se belange eerste gestel word en nie dié van die land nie.

“Wat grondhervorming aanbetref skep die president ook verdere onsekerheid as hy sê hy gaan die Onteieningswet aanwend om grondhervorming te bespoedig. Dit sal net daartoe lei dat voedselsekerheid bedreig word.

“Daar is instellings wat reeds gesê het hulle gaan die wettigheid van die Onteieningswet in die Grondwethof betwis.

“Die enigste manier waarop die ANC grondhervorming kan bespoedig is om van die omslagtige burokrasie en onbevoegde amptenare ontslae te raak en die beginsel van vrywillige koper/vrywillige verkoper, toe te pas.

“Ten minste 5% van Suid-Afrika se landbougrond is jaarliks op die ope mark beskikbaar. Met die heersende droogte is daar boonop baie plase wat vir selfs minder as markwaarde beskikbaar is.

“Dit is duidelik dat die ANC die grondkwessie totaal verpolitiseer om te kompeteer met die EFF. Dit jaag emosies op en is ‘n resep vir wrywing en onstabiliteit in Suid-Afrika,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

 

 

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.