Die Gautengse LUR van Samewerkende regering, Tradisionele sake en Huisvesting, mnr Paul Mashatile, kan nie vertrou word in sy amp as LUR nie.
Die VF Plus in Gauteng is van mening dat mnr Mashatile besig is om die situasie in Mogale City uit te buit tot voordeel van die ANC om die koalisieregering in die munisipaliteit tot ‘n val te probeer bring. Volgens mediaberigte het die LUR die afgelope naweek, tydens ‘n ANC-lekgotla, die standpunt ingeneem dat die ANC moet voordeel trek uit die verskille tussen koalisievennote en hul ondersteuners.
Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr Philip van Staden, het gesê dat mnr Mashatile se môre- en aandpraatjies nie ooreenkom nie en altyd tydens vraetyd in die Gauteng Wetgewer berigte van sy uitlatings in die media afmaak as onwaarhede wat gepubliseer word.
“Die ANC se plan in Mogale City is baie duidelik. Dit is om raadsprosesse so te saboteur deur middel van die ANC se speaker dat die raad nie kan funksioneer, die nodige aanstellings maak of die vereistes van die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan kan volg nie. Dit opsigself is ‘n gyselaarshouding wat besig is om plaas te vind net omdat die kiesers, tydens die verkiesing van 03 Augustus 2016, besluit het om die ANC uit te stem. Die ANC en mnr Mashatile wil nie aanvaar dat hulle nie meer die regerende party in Mogale City is nie en sal alles in hul vermoeë doen om die raad omvêr te werp.""
Die VF Plus is van mening dat die ANC dienslewering in die munisipaliteit heeltemal tot stilstand wil dwing sodat koalisievennote nie die kans gegun kan word om hul mandaat van die kiesers uit te voer nie. Die VF Plus sal as koalisievennoot hulself hierteen verset en bydra tot die stelling van ‘n mosie van wantroue in die ANC-speaker en sy uiteindelike verwydering.
“Die VF Plus gaan teen Mashatile optree op wetgewersvlak. Hy sal moet verantwoording doen vir sy uitlatings en hierdie is nie die eerste keer wat die LUR sy uitlatings in die media afmaak as onwaarhede nie. Die LUR het in November 2016 tydens ‘n sitting ontken dat hy die Tshwane-metro onder administrasie wil plaas – selfs nadat daaroor in die media berig was. Hy maak alles af as onwaarhede maar onder in die gate smee hy bose planne saam met sy ANC kaders.""
Tel: 0840154722 of 011-498 5477 / 012-772 4410
epos: Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za